Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Nywerhede vra: Hoe werk krag-afslag?

Terwyl die nasionale energiereguleerder, Nersa, al ’n jaar lank sloer met reëls vir Eskom se afslag aan nywerheidskraggebruikers, gaan al hoe meer van hulle onder, sê Nellis Bester, voorsitter van die bedryfsliggaam vir ferro-allooi-produsente (Fapa).

Eskom se Duvha-kragstasie.

Intensiewe gebruikers subsidieer reeds ander Eskom-kliënte se kragkoste met sowat 14%.

Nersa het pas ’n afslagooreenkoms tussen Eskom en South32 vir die groep se Hillside-smelter by Richardsbaai goedgekeur wat vanaf 1 Augustus vir tien jaar sal geld. Dit vervang die ooreenkomste vir Hillside se potlyne 1 en 2 wat ’n jaar gelede verval het, asook dié vir potlyn 3, wat nog nie tot ’n einde gekom het nie.

Ingevolge dié ooreenkomste was die tarief waarteen Hillside krag by Eskom gekoop het, gekoppel aan onder meer die aluminiumprys in Londen en die wisselkoers.

Aan die ander kant maak die ou en nuwe ooreenkomste daarvoor voorsiening dat Eskom op kort kennisgewing kragtoevoer na Hillside kan beperk wanneer dit nodig is om die land se kragstelsel te stabiliseer. Dít is goud werd vir die stelseloperateur wat moet sorg dat die land se ligte aanbly.

Nersa het aan Rapport bevestig dat hy Eskom se aansoek om die Hillside-ooreenkomste wat verlede jaar verval het met ’n jaar te verleng, verwerp het.

“Nersa het geen mandaat om terugwerkend goedkeuring te gee nie,” het Nersa se woordvoerder Charles Hlebela Vrydag gesê.

South32 het in ’n verklaring gesê sy finansiële state maak voorsiening vir hoër tariewe vanaf 1 Augustus 2020. Die groep het nie die afgelope week op verdere vrae gereageer nie.

Volgens Bester het verskeie Fapa-lede vir soortgelyke afslag aansoek gedoen ingevolge die raamwerke vir kort- en langtermyn- onderhandelde prysooreenkomste met Eskom wat die departement van energie sowat ’n jaar gelede gefinaliseer het. Daarvolgens kan intensiewe gebruikers laer tariewe vir ’n beperkte tydperk met Eskom beding, mits Eskom sy basiese koste dek.

Hy weet ook van ander intensiewe gebruikers wat in die ry staan.

Eskom het die afgelope week bevestig hy het verskeie aansoeke ontvang, maar hy verwerk dit nog en het benewens dié vir Hillside nog niks by Nersa ingedien nie. Volgens Bester is die aansoeke meestal laat verlede jaar of in die eerste kwartaal van 2021 ingedien.

Eskom én die aansoekers wag egter vir Nersa om die reëls vir dié afslag te finaliseer. “Eskom is gewillig,” sê hy.

Volgens Bester is die departement van energie se beleidsraamwerke baie vaag. “Ons weet nie wat die perk op die beskikbare afslag is en of dit net beskikbaar is vir die ouens wat eerste aansoek doen nie.” Hy vra verder wie die koste gaan dra – is dit al Eskom se kliënte of ander intensiewe gebruikers?

Dit kos geld en baie tyd en energie om so ’n aansoek voor te berei en hulle moet weet of hul verwagtinge realisties is voordat hulle dit aanpak.

Fapa het tesame met die Minerale Raad en energie-intensiewe gebruikersgroep (EIUG) reeds verlede jaar met die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, oor die kwessie vergader. Hulle het ’n gesamentlike taakspan gevorm wat die kwessie bespreek en skrywes gerig het aan Nersa.

Daar was ook ’n vergadering met Nersa – en Fapa-lede het aan ’n opname deelgeneem wat die reguleerder oor die kwessie gedoen het.

Tog is daar ’n jaar later nog weinig vordering, sê Bester. Dít terwyl minstens twee smelters onlangs moes sluit en nog twee in sakeredding is. Verskeie ander werk net halfmas.

“Hierdie jaar het kragtariewe met byna 15% gestyg. Volgende jaar is dit minstens 12% soos sake nou staan, maar dit kan selfs 18% tot 20% wees, afhangend van die sukses wat Eskom behaal met van sy hofsake teen Nersa,” sê Bester.

Fapa, die EIUG en die Minerale Raad beywer hulle nou vir ’n opvolgvergadering met Mantashe in ’n poging om die finalisering van die riglyne en verwerking van lede se aansoeke om afslagooreenkomste te versnel, sê hy.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Kragtariewe  |  Nywerhede  |  Mynbou  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Fabrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.