Hoekom word die ondersoek na Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, anders hanteer as dié van Brian Molefe en Matshela Koko, vorige uitvoerende hoofde van Eskom, is Woensdag in die parlement gevra.

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof.
Elvira Wood
Veronica Mente, EFF-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het uitgevaar oor wat sy gemeen het dubbele standaarde is in die ondersoek in opdrag van Eskom na bewerings teen Oberholzer.
Dit was nadat Ntando Cele, inhoudsadviseur van Skoor, meer besonderhede gedeel het uit die ondersoekverslag waarin Oberholzer kwytgeskeld word van ’n tugverhoor.
Oberholzer het op 11 Desember 2019 ’n wysiging goedgekeur aan ’n kontrak van ’n gesamentlike onderneming van Stefanutti Stocks en Basil Read om bouwerk by die Kusile-steenkoolkragstasie te voltooi.
Dit was terwyl hy aandele in Stefanutti Stocks besit het via ’n FNB-belegging, het Cele verduidelik.
Oberholzer was tot 2008 by Eskom werksaam, maar het toe bedank en sy eie onderneming begin. In 2013 en 2014 het hy by Stefanutti Stocks gewerk waar hy 35 834 aandele in dié firma gekry het. Toe hy in 2018 as bedryfshoof by Eskom aangestel is, moes hy sy belange verklaar. Hy het sy aandele in Absa, SAB en Sanlam verklaar, maar nie die Stefanutti Stocks-aandele nie, want in die ondersoek het hy verduidelik dit was toe deel van ’n FNB-aandeleportefeulje wat hy as geheel verklaar het.
Die ondersoek deur ’n senior advokaat het dié verklaring in orde gevind, maar wel aanbeveel dat Eskom se uitvoerende hoof of ’n aangewese direksielid vir Oberholzer raadgee oor die verklaring van belangebotsings.
Oor ’n kontrak van Black & Veith waaroor bewerings van korrupsie teen Oberholzer gemaak is, het die ondersoeker bevind daar was geen feite wat enige korrupsie aan Oberholzer se kant bewys nie.
Oor die betaling van R42 miljoen aan die konstruksiegroep Aveng wat uitgelig is deur die fluitjieblaser Mark Chettiar, ’n senior beampte van Eskom wat die klagtes teen Oberholzer ingedien het, het die ondersoekverslag bevind dié saak is tans voor die hooggeregshof. Aanvanklik is aanbeveel dat ’n tugverhoor gehou word, maar omdat die saak nou voor die hof is en uitspraak nog afgewag word, het die ondersoeker gemeen dis in Eskom se belang om eers vir die uitspraak te wag.
Oor Oberholzer se betrokkenheid by ’n versoek dat sy swaer oorgeplaas word van ’n pos in Gauteng na Kaapstad het die ondersoekverslag nie enige verkeerde optrede bevind nie.
Mente sê die Eskom-ondersoekverslag is nie geldig nie, en sy wil hê daar moet presies gekyk word na wat die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies en Eskom se eie beleid sê oor ’n werknemer wat ’n belang in ’n maatskappy het met wie sy werkgewer ’n sakeverhouding het.
Sy sê ’n werknemer van tugstappe word tog nie vrygeskeld bloot omdat die saak voor die hof is nie. “As daar wangedrag was en ’n fluitjieblaser dit aanhangig gemaak het, en dit twyfelagtig is ingevolge die maatskappybeleid of die wet oortree is, moet die maatskappy tog optree! Ons word ondermyn.”