Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olie-aanval: Olieprys daal met 7%
Deel van ’n olie raffinadery waar ruolie produseer word. Foto: Reuters

Dit lyk of die doemprofete verkeerd was wat Dinsdag nog voorspel het dat hoë oliepryse vir weke of selfs maande aan die orde van die dag gaan wees.

Die prys van ruolie het oornag met net meer as 7% van $69,02 per vat tot $64,15 per vat gedaal.

Bloomberg berig dit kom nadat Saudi Aramco, die maatskappy wie se Abqaiq-raffinadery in Saoedi-Arabië Saterdag die ergste onder ’n hommeltuigaanval deurgeloop het, Woensdag gesê het hy het reeds sowat 41% van sy produksiekapasiteit herstel.

Dié raffinadery produseer sowat vyf miljoen vate ruolie per dag. Dit is 5% van wêreldproduksie.

Daar was Dinsdag nog mediaberigte dat Saudi Aramco glo verwag dat dit weke of selfs maande kan duur voordat sy raffinadery weer in volle bedryf gestel kan word.

Amin Nasser, uitvoerende hoof van Saudi Aramco, het Dinsdag dié gerugte op ’n mediakonferensie die nek in geslaan en gesê die maatskappy produseer reeds weer sowat twee miljoen vate olie per dag. Hulle hoop om produksie teen einde September reeds ten volle te herstel.

Prins Abdoelaziz bin Salman, minister van energie van Saoedi-Arabië, het Dinsdag aan die media gesê dat Saudi Aramco, wat ’n staatsonderneming is, al sy verpligtinge teenoor sy kliënte sal kan nakom. Die maatskappy het glo genoeg reserwes vir dié doel.

Suid-Afrika

Volgens Bloomberg verhandel ruolie egter ondanks dié daling steeds sowat 7% hoër as vóór die aanval.

Die sluitingsprys op Vrydag 13 September vir ruolie was $60,22 per vat.

Selfs al daal die olieprys, kon die invloed van die aanval ook reeds Dinsdag op Suid-Afrika se brandstofpryse gesien word.

Suid-Afrika voer baie van sy olie van Saoedi-Arabië in.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê Dinsdag in ’n verklaring dat waar daar Maandag nog hoop was dat die prys van 95-oktaan-petrol op 2 Oktober met sowat 11c per liter sou daal, het die oorverhaling daarop teen Dinsdag reeds tot net 5c gedaal.

Die oorverhaling is met hoeveel pryse sou daal indien dit vandag vasgestel moet word.

Maandag was daar ’n onderverhaling van tussen 8c en 10c op die groothandelprys per liter. Dit het nou reeds tot 13c gestyg.

As die olieprys wel aanhou daal, is daar wel ’n kans dat Suid-Afrikaners dalk tóg in Oktober minder vir veral petrol sal betaal.

Nóg goeie nuus is dat die rand oornag ook teenoor die dollar verstewig het.

Dit verhandel vroeg Woensdagoggend teen R14,69 teenoor die dollar. Dit het in ’n stadium Dinsdag teen R14,81 teenoor die dollar verhandel.

Die prys van ruolie en die wisselkoers van die rand teenoor die dollar, is die twee grootste veranderlikes wat plaaslike brandstofpryse bepaal.

Meer oor:  Outomobiel-Assosiasie  |  Aa  |  Saudi Aramco  |  Saoedi Arabië  |  Olie-Aanval  |  Petrolprys  |  Brandstofprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.