Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olie, Lake Charles laat Sasol nee sê vir dividend

Die petrochemiese reus Sasol gaan nié vir die halfjaar tot einde Desember ’n dividend aan beleggers uitkeer nie.

Die maatskappy het vroeg Maandagoggend in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, gesê dat hy dié besluit geneem het weens die uitdagende marksituasie waarin hy hom tans bevind.

Sasol se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Luidens dié verklaring het Sasol se verdienste vir die halfjaar met 72% tot R4,5 miljard gedaal. Dit is teenoor ’n jaar gelede.

Sasol sê dié daling is weens ’n gemiddelde daling van 9% per vat ruolie, laer internasionale pryse vir chemikalieë, sy mynbouafdeling wat minder geproduseer het en probleme by sy Lake Charles-chemiese aanleg in die VSA.

Verdienste voor rente, belasting en waardevermindering het met 53% tot R9,9 miljard gedaal. Basiese en wesensverdienste per aandeel het onderskeidelik met 73% tot R6,56 en 74% tot R5,94 gedaal. Dit is teenoor dieselfde tydperk ’n jaar gelede.

Probleme by die Lake Charles-projek het Sasol se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) met R1,1 miljard beïnvloed. Aangepaste ebitda het met 27% tot R19,59 miljard gedaal.

Kontant wat deur bedrywighede gegenereer is, het met 21% tot R19,6 miljard gedaal. Sasol het op 31 Desember R12,7 miljard se kontant gehad. Dit is teenoor die R15,8 miljard op 30 Junie 2019.

Lake Charles

Sasol het in die ses maande R10 miljard aan sy Lake Charles-projek bestee. Dié projek is die afgelope tyd deur groot uitdagings in die gesig gestaar.

Die onlangste een was ’n ontploffing by die aanleg einde Desember 2019.

Sasol sê sy ondersoek wys dat ’n pypsteunstruktuur by die laedigtheidspoliëtileen-eenheid (LDPE) meegegee het. Dit het die gevolg gehad dat ’n pyp uit posisie geskuif het net mooi toe die eenheid in bedryf gestel word.

Sasol sê geen groot skade is veroorsaak nie. Dit neem volgens hom egter lank om die struktuur te laat vervang wat beteken hy verwag dat dié eenheid nou eers gedurende die tweede helfte van 2020 in gebruik geneem sal word.

Hy sê dié vertraging gaan hom egter nie keer om ander eenhede in bedryf te stel by die aanleg in die Amerikaanse deelstaat Louisiana nie.

Sasol gaan vir die tyd wat herstelwerk aan die LDPE gedoen word, etileen wat vir dié eenheid bestem was, ekstern verkoop.

Sasol sê teen einde Desember 2019 was die projek 99% voltooi.

Sasol begin Maandag teen R214,08 op die JSE begin verhandel.

Meer oor:  Sasol  |  Lake Charles  |  Brandstof  |  Petroleum  |  Chemikalieë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.