Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieaanval: Weke, selfs maande, van duur olie wink

Die wêreld kan vir weke, of selfs maande, deur hoë oliepryse in die gesig gestaar word.

Dit is omdat Saudi Aramco, die maatskappy wie se Abqaiq-raffinadery in Saoedi-Arabië Saterdag die ergste onder ’n hommeltuigaanval deurgeloop het, raam dit so lank kan duur voordat hy dié skade sal kan regstel.

Dié raffinadery lewer sowat 5% van die wêreld se olie.

Die Hoethi-rebellebeweging wat deur Iran gesteun word en uit Jemen opereer, het verantwoordelikheid vir Saterdag se aanval aanvaar.

Die gevolg van die aanval was dat die prys van ruolie Maandag die hoogte ingeskiet het. Dit verhandel vroeg Dinsdagoggend teen $68,26 per vat.

Buiten dat ’n styging in die olieprys ongetwyfeld ’n invloed op die brandstofprys in Suid-Afrika sal hê, het die rand ook Maandag verswak. Dit sal plaaslike brandstofpryse nog verder die hoogte laat inskiet.

Die rand verhandel vroeg Dinsdagoggend teen R14,71.

Siobhan Redford, ekonoom van RMB, sê Maandag in ’n nuusbrief die aanval en enige vergelding sal markte wisselvallig maak en lei tot risikovermyding wat opkomende markte se wisselkoers en aandeelmarkte kan aftrek.

Bloomberg berig dat hoewel Aramco kort ná die aanval gesê het hy gaan poog om produksie so gou moontlik te herstel, het ’n woordvoerder laat Maandagaand gesê hulle word deur “erge” ontwrigtings in die gesig gestaar wat weke of selfs maande kan duur.

Mense met kennis van die saak sê minder as die helfte van die aanleg se kapasiteit kan op kort termyn herstel word.

“Die skade aan die Abqaiq-raffinadery is erger as wat voorheen geraam is,” sê Amrita Sen, hoofolieontleder by Energy Aspects.

Bloomberg berig Saudi Aramco is besig om olievelde in die see wat in ongebruik is tans weer op dreef te kry om van die verlore kapasiteit aan te vul.

Aramco het olievoorraad vir sowat 26 dae wat hy kan uitvoer.

Herstelwerk

Foto’s wys daar is veral skade aangerig aan vyf van die 18 stabiliseringstorings op die aanleg. Dié torings word gebruik om gasse van die ruolie te skei.

Phillip Cornell, voormalige raadgewer by Aramco, sê dit is juis dié torings wat lank kan neem om te herstel. Hy sê dit kan weke of maande duur om die onderdele vir die torings in die hande te kry.

Pres. Donald Trump het reeds toestemming gegee dat olie van die Amerikaanse strategiese brandstofreserwes verkoop mag word om die tekort van ruolie op die mark teen te werk.

Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) sê ook hy is in gesprek met die owerhede van Saoedi-Arabië.

Mohammed Barkindo, sekretaris-generaal van Opul, het in ’n onderhoud met Bloomberg gesê dit is nog te vroeg om te besluit oor of Opul se lidlande meer olie gaan produseer. Opul perk reeds vir ’n geruime tyd die hoeveelheid olie wat deur sy lede geproduseer word in, juis in ’n poging om die olieprys te laat styg.

Luidens Bloomberg se berekeninge sal Opul slegs sowat 900 000 vate olie per dag by wêreldproduksie kan voeg sou hy die produksieperke afskaf wat hy tans oplê. Dit is net ’n breukdeel van die sowat vyf miljoen vate per dag wat die Abqaiq-raffinadery skielik nie meer lewer nie.

Meer oor:  Saudi Aramco  |  Hommeltuie  |  Ruolie  |  Petrolprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.