Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Oliekartel ‘het sy wortels in Afrika’
Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande handhaaf al geruime tyd produksieperke in ’n poging om die olieprys op te jaag.

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) se wortels is in Afrika, want die oorspronklike idee vir so ’n oliekartel is in 1957 op ’n vergadering by die Kaïro-seiljagklub bespreek.

Mohammed Sanusi Barkindo, sekretaris-generaal van Opul, het Woensdag op die Africa Oil & Power-konferensie in Kaapstad vertel hoe Afrika se invloed in Opul toenemend gegroei het namate meer olieproduserende lande in Afrika lid geword het van die oliekartel.

Die Republiek van die Kongo is die jongste lid van Opul wat in Julie by die organisasie aangesluit het, sê Barkindo.

Internasionale olieproduksie het in die vyf jaar tot 2016 vinniger gestyg as die olievraag, en dis hoekom oliepryse in daardie tyd so skerp geval het, sê hy.

Olieproduserende lande in Afrika begin egter nou weer glimlag sedert oliepryse tot meer as $70 per vat herstel het.

Toe die oliepryse in 2015 en 2016 so skerp gedaal het, het beleggings in eksplorasie en produksie in Afrika opgedroog en het duisende poste verlore gegaan. Selfs in Amerika het meer as 100 olieverwante maatskappye om bankrotskap-beskerming gevra. Dis hieruit wat Opul se besluit gevloei het om oliepryse te probeer stabiliseer, verduidelik Barkindo.

Die ooreenkoms van einde 2016 oor die inperking van olieproduksie tussen Opul-lede en ander olieproduserende lande wat nie lid is van Opul nie, het gehelp om oliepryse te help herstel. Barkindo beskryf die ooreenkoms as ’n deurbraak vir die internasionale oliemark omdat so baie olieproduserende lande – 24 – kon saamwerk. Die jongste weergawe van die samewerkingsooreenkoms geld tot einde vanjaar.

Die wêreld se olievraag sal teen 2040 na verwagting op 111 miljoen vate per dag staan, wat 16 miljoen vate per dag meer is as tans, sê Barkindo.

Meer oor:  Opul  |  Mohammed Sanusi Barkindo  |  Oliekartel  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.