Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys, aandele val ná terreur in Saoedi-Arabië

Aandeelpryse op die Saoedi-Arabiese aandelebeurs het Sondag geval ná Saterdag se hommeltuig-aanval op Saoedi-Arabië en die wêreld se grootste olie-aanleg.

’n Satellietfoto verskaf deur Planet Labs van die Abqaiq-olieverwerkingsaanleg in Saoedi-Arabië wat Saterdag met hommeltuie aangeval is. ’n Groot Saoedi-Arabiese olieveld is ook aangeval. Foto: AP

Brent-ruoliepryse was Sondag 0,26% laer op $60,22 per vat. Oliepryse in Amerika was 0,44% laer op $54,85 per vat.

Die markreaksie is ’n aanduiding van hoe blootgestel en kwesbaar Saoedi-Arabië se olie-aanlegte vir terreuraanvalle is.

Die Abqaiq-raffinadery, eiendom van die staatsoliemaatskappy Saudi Aramco, is die grootste verwerkingsaanleg van ruolie.

Ná Amerika en Rusland is Saoedi-Arabië die grootste olieprodusent ter wêreld.

Die aanval het Saoedi-Arabië se olieproduksie met die helfte gesny en dit kan weke duur voordat produksie herstel.

Saudi Aramco is die maatskappy met wie die regering van Suid-Afrika verlede jaar ’n ooreenkoms gesluit het om te help bou aan ’n nuwe olieraffinadery by Richardsbaai in KwaZulu-Natal. Die raffinadery gaan ontwerp word om Arab Light en Arab Extra Light ruolie te verwerk – juis dié olie wat deur die Abqaiq-aanleg geproduseer word.

Die vernaamste beursindeks op die Saoedi-beurs het Sondag met soveel as 3,1% gedaal. Die daling het bykans die hele jaar se stygings uitgewis. Aandeelpryse in Katar, Koeweit, Bahrain en die Verenigde Arabiese Emirate het ook met minstens 0,3% gedaal.

In die Midde-Ooste is Sondag ’n normale handelsdag.

’n Ontleder by Al Dhabi Capital in Abu Dhabi het gesê die situasie is baie gespanne en verhoog risiko in die Midde-Ooste “tot ongekende vlakke”.

Die aanval wat met hommeltuie uitgevoer is, het die olieproduksie van Saoedi-Arabië met die helfte gesny. Dit is die grootste aanval op die land se olie-infrastruktuur sedert Saddam Hoesein in die eerste Golfoorlog Scud-missiele op die land afgevuur het.

Die Houthi-rebellebeweging wat deur Iran gesteun word en uit Jemen opereer, het verantwoordelikheid vir Saterdag se aanval aanvaar.

Saudi Aramco is op die punt om op die aandelebeurs te noteer, en hoewel ontleders van die Eurasia Group nie dink die voorval sal hul notering ontwrig nie, kan dit ’n impak hê op sy waardasie.

Meer oor:  Saudi Aramco  |  Saoedi-Arabië  |  Energie  |  Terreur  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.