Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys bo $80 per vat is slegte nuus vir SA

Die prys van Brent-ruolie het Donderdag vir die eerste keer in meer as drie jaar tot bo $80 per vat gestyg.

Volgens Reuters het dit 500 dae en bykans 1 miljard vate olie geduur voordat die enorme oorskot in die wêreldmark vir olie dié prys weer gehaal het.

Jy kan maar begroot vir 'n enorme petrolprysstyging in Junie. Foto: Theo Jephta

Die prys was laas in November 2014 bo $80 per vat.

Markontleders het reeds weke gelede begin praat dat olie dalk $100 per vat kan haal.

Dit is baie slegte nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste. Reeds voor dié hoogtepunt was die onderverhaling op die petrolprys vir die oorsigmaand tot 76c per liter en op die dieselprys tot 82c per liter.

Dié onderverhalings – dus met hoeveel pryse in Junie sal moet styg – is tot einde Woensdag, volgens die Sentrale Energiefonds se syfers. Nog 15 dae bly oor voordat die pryse wat van Woensdag 6 Junie af geld op 1 Junie vasgestel word.

As Amerika weer sanksies teen Iran instel, sal dié land se olie-uitvoer geknou word, wat pryse kan help opdruk.

Daarby is daar produksieprobleme in groot olieproduserende lande soos Venezuela, Mexiko en Angola.

Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en groot vennote soos Rusland – altesame 24 lande – het sedert Januarie 2017 hul gesamentlike produksie met altesame 1,8 miljoen vate per dat besnoei.

Olie se laagtepunt was $27 per vat in Januarie 2016. Die prys het die afgelope 12 maande met 50% gestyg.

Saoedi-Arabië, naas Rusland die grootste produsent van olie wêreldwyd, is ten gunste van ’n olieprys van tussen $80 en $100 per vat. Dié land wil die staatsbeheerde oliemaatskappy noteer.

Die stygende olieprys maak dit egter meer winsgewend vir Amerikaanse skalieprodusente om groter volumes gas en olie uit te pomp. Amerika is op koers om vanjaar die titel as grootste olieprodusent ter wêreld van Rusland te steel wanneer Amerikaanse olieproduksie 11 miljoen vate per dag kan haal.

Die sterker dollar maak dit ook vir groot invoerlande soos Indië en Indonesië moeiliker om olie op groot skaal aan te koop.

Ontleders soos die Internasionale Energie-administrasie is daarom nie besonder optimisties dat die olieprys vir lank so hoog gaan bly nie.

Meer oor:  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.