Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys: Dié 3 faktore trek nou tou

Die vinnige styging in die olieprys, wat in die eerste kwartaal van die jaar die skerpste in ’n dekade gestyg het, is dalk verby.

Die vliegdekskip USS Abraham Lincoln lei die aanvalsmag wat die VSA na die Hormuz-seestraat ontplooi om wêreldwye olieverskepings te beskerm. Foto: Getty Images

Dit bly egter ’n ope vraag of olie goedkoper gaan word – iets waarvoor Suid-Afrikaanse motoriste duim vashou ná vier agtereenvolgende maande se stygings in plaaslike brandstofpryse.

Maandag het die prys van Brent-ruolie nog gestyg en teen 11:30 was dit 1,67% hoër op $71,80 per vat.

Faktore wat tans die grootste rol speel in die olieprys sluit in:

1. VSA vs. China

Ontleders reken die handelsoorlog tussen die VSA en China kan die vraag na brandstof onderdruk en daarom oliepryse onderdruk.

Nadat pres. Donald Trump Vrydag invoertariewe van 25% op $200 miljard se Chinese goedere na die VSA gehef het, het die Asiatiese reus se belofte van weerwraak wêreldmarkte holderstebolder gelaat.

2. Opul

Lidlande van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) het hulle tot die besnoeiing van produksie verbind om kunsmatige Brent-ruolie-tekorte te skep en sodoende pryse op te stoot.

Saoedi-Arabië, die hooflid van Opul, wil oliepryse weer op minstens Oktober 2018 se vlakke kry, die enigste punt waar die land sê hy ’n wins kan maak. Die olieprys was toe sowat $86 per vat.

Opul het in Januarie met sy ernstige besnoeiings begin en die prys van Brent-ruolie, wat op Oukersaand nog teen $50,47 verhandel het, onophoudelik opgestoot tot meer as $70 per vat in Mei 2019.

In die eerste kwartaal van 2019 het die prys van ruolie die meeste gestyg in bykans ’n dekade.

Sedert einde April het die styging egter begin verlangsaam.

3. VSA vs. Iran

Een van die faktore wat die olieprys nog kan opdruk, is die toenemende spanning tussen die VSA en Iran.

Trump het die laaste oorblywende kwytskeldings wat Iran toelaat om nog van sy olie aan China, Suid-Korea, Japan, Indië en Turkye uit te voer opgeskort en het verlede week nog oorlogskepe en -vliegtuie na die Midde-Ooste ontplooi. Trump beskuldig Iran daarvan dat hy nie gehoor gee aan die 2015-ooreenkoms om van kerntegnologie ontslae te raak nie, en voel ook dié Obama-era se ooreenkoms is nie radikaal genoeg nie.

Iran het gedreig om die Hormuz-seestraat, waardeur meer as 40% van alle olieverskepings ter wêreld moet beweeg, te blokkeer. Saoedi-Arabië, ’n vennoot van die VSA, het Sondag aangekondig twee van sy olietenkskepe is naby dié gebied aangeval en ernstig beskadig, maar dat die oortreders nog nie bekend is nie.

Afhangende van watter krisis eerste versleg, sal die olieprys of sterker op- of afwaarts getrek word, maar vir nou is pryse meer gelykmatig as wat dit in maande was.

Meer oor:  China  |  Vsa  |  Iran  |  Opul  |  Ruolie  |  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.