Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys in 2019: Die storie van ‘te veel’
Die prys van ruolie eindig die jaar nagenoeg 12% laer as die 2019-hoogtepunt. Foto:

Die wêreld se oliemarkte het vanjaar ’n aantal mylpale behaal wat die verhaal vertel van die afgelope dekade: dat die wêreld onomkeerbaar verander het van ’n era van te min olie tot ’n era van oorvloed.

Die verwikkelinge in oliemarkte in 2019 was groot, maar wat dit onderskei het, was dikwels hoe klein die impak daarvan was. Nog nooit het soveel belangrike gebeure beleggers so onverskillig gelaat nie.

Dit sluit in:

  • Die wêreld se grootste aanvanklike openbare aanbod nóg het op 11 Desember gebeur toe 1,5% van Saoedi-Arabië se staatsbeheerde oliemaatskappy, Aramco, genoteer het teen ’n aandeelprys wat dié maatskappy ’n markwaarde van $1 880 miljard gegee het.
  • Die grootste ontwrigting nóg van die olievoorraad het plaasgevind toe ’n rebellegroep in September hommeltuig-aanvalle op Aramco se grootste aanleg gedoen het, wat Saoedi-Arabië se olieproduksie gehalveer het. (Die Houthi-rebelle is in Jemen gesetel, maar word deur Iran ondersteun, en die VSA het laasgenoemde land die skuld gegee.)
  • ’n Stortvloed sanksies is deur veral die VSA ingestel op uitvoerders wat met Iran en Venezuela sake gedoen het.
  • Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en alliansievennote soos Rusland het twee keer produksieperke ingestel om oliepryse te probeer opjaag.

Die kern van die onverskilligheid was danksy iets wat die wêreld se energiebalans oor die afgelope dekade verander het: die Amerikaanse skalie-revolusie, wat wêreldmarkte beskerm teen skokke wat in vorige dekades pryse die hoogte sou laat inskiet het. Danksy skaliegas en -olie het die VSA in 2019 vir die eerste keer ’n netto uitvoerder van ruolie en van geraffineerde olie geword.

LEES OOK: Petrolprys kan op Nuwejaar daal

’n Ander belangrike keerpunt kan in die toekoms die lot van oliemarkte bepaal: Vir die eerste keer nóg voorspel die Internasionale Energie-agentskap (IEA) dat die vraag na olie teen die einde van die nuwe dekade (dus teen 2029) sal begin daal soos meer omgewingsvriendelike tegnologie (onder meer elektriese motors) begin posvat.

Die Amerikaanse navorser Amy Myers Jaffe sê dis die eerste jaar wat sy kan onthou dat die olieprys in so ’n groot mate ontkoppel is van geopolitieke risiko. Dis ook die jaar waarin motormaatskappye daaroor begin praat het dat ’n boonste piek in die vraag na motors al hoe waarskynliker word.

Die skielike verlies van 5,7 miljoen vate olie per dag is presies die soort krisis wat die bedryf dekades lank gevrees het. In vorige jare sou dit die olieprys dalk lank opgedruk het. Hoewel oliepryse ná die hommeltuig-aanvalle met tot 19% opgeskiet het, het dit binne twee weke weer teruggesak.

Die olieprys in Londen is nou ongeveer $66 per vat, nagenoeg 12% laer as 2019 se hoogste vlak.

Die VSA het vanjaar nagenoeg 13 miljoen vate olie per dag geproduseer, wat dit nou die wêreld se grootste olieprodusent maak.

Hoewel die skalie-opbloei tekens toon dat dit begin taan, word produksie nou vanuit kusreserwes begin op plekke wat voorheen as ekonomies onvolhoubaar beskou is, soos langs Brasilië en Noorweë.

Die IEA het in November voorspel dat olieverbruik teen 2030 vanaf die huidige 1 miljoen vate per dag tot 100 000 vate per dag kan tuimel.

Verkope van passasiersmotors met binnebrandenjins is reeds aan die daal, volgens Bloomberg New Energy Finance.

Die finansiële sektor is al hoe meer gemoeid met dié vraagstuk en verander van beleggings in fossielbrandstowwe na volhoubaarder energiebronne. Organiseerders van die konferensie Oil & Money – wat nou al vier dekades lank jaarliks in Londen gehou word – het vanjaar die konferensie se titel verander na die Energy Intelligence Forum om dié kwellings te weerspieël.

- Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Skaliegas  |  Opul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.