Die skerp val in oliepryse kan die Reserwebank oortuig om rentekoerse volgende week te verlaag, sê ekonome.
Oliepryse het wel Dinsdag effens herstel ná Maandag se val wat die skerpste eendagdaling in oliepryse sedert die Golfoorlog in 1991 was.
In New York het olietermynkontrakte ná Maandag se val van sowat 25% met meer as 8% gestyg. West Texas Intermediate, die Amerikaanse olieprysmaatstaf, was 8,29% hoër op $33,71 per vat, wys syfers van Bloomberg.
Brent ruolie in Londen het Dinsdagoggend met 8,6% tot $37 per vat herstel, maar dis steeds heelwat laer as die maandhoogtepunt van byna $60 per vat teen 20 Februarie.
Die internasionale olievraag sal vanjaar na verwagting daal namate die impak van die koronavirus deur die wêreld versprei, het die Internasionale Energieagentskap (IEA) intussen in sy jongste oliemarkvooruitskatting gesê.
Die olievraag kan vanjaar weens die skerp afname in olieverbruik in China en grootskaalse ontwrigting in internasionale vervoer en handel vir die eerste keer sedert die internasionale geldkrisis in 2009 daal, het dr. Fatih Birol uitvoerende direkteur van die IEA, gesê.
Die IEA verwag nou ’n internasionale olievraag van 99,9 miljoen vate per dag, wat sowat 90 000 vate per dag minder as in 2019 is. Dit is ’n skerp afname van die IEA se voorspelling in Februarie toe nog gemeen is dat die olievraag vanjaar met 825 000 vat per dag kan groei.
Plaaslike ekonome verwag intussen dat die Reserwebank, wat van 17 tot 19 Maart vergader, hierdie keer kan besluit om die rentekoerse verder te verlaag. Dit kom nadat die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee in Januarie die mark verras het deur die repokoers tot 6,25% te verlaag – wat die laagste rentekoers sedert Desember 2015 is.
Maart se vergadering kom ook ’n week of wat voor die kredietgraderingsagentskap Moody’s se volgende hersiening van Suid-Afrika se kredietgradering wat hy na verwagting op 27 Maart sal doen.
Die koronavirus en die olieprysskokke verhoog die kanse dat die rentekoerse vanjaar nog twee keer verlaag kan word, sê Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB.
As ander sentrale banke hul rentekoerse in reaksie op die koronavirus sny en plaaslike inflasie in toom bly, het die Reserwebank meer ruimte om rentekoerse verder te verlaag.