Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys onder groot druk weens koronavirus

Oliepryse – wat Maandag die laagste vlakke in ’n jaar getref het – het Dinsdag effens gestyg terwyl die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy bondgenote vergader het.

’n Olie-pypleiding in Johor, Maleisië. Die olieprys is onder druk omdat China se ekonomie deur die nuwe koronavirus geknou word. Foto: Edgar Su, Reuters

Opul se 13 lidlande en ander groot olieprodusente, onder meer Rusland, hou op die oomblik ’n vergadering om die invloed van die 2019-nCoV-virus op die oliemark te bespreek.

Die uiteinde van die vergadering sal bepaal of ’n noodvergadering later in Februarie gehou word om nuwe produksieperke in te stel ten einde die olieprys te ondersteun. Dit sal vroeër wees as die reeds geskeduleerde vergadering in Maart.

Een afgevaardigde het aan Bloomberg gesê die slegste moontlike scenario is dat die virus die vraag na olie met 200 000 vate per dag verminder.

Die virus het reeds meegebring dat China 20% minder olie nodig het, met hele stede wat in kwarantyn geplaas word en fabrieke wat hul deure sluit. Nagenoeg 21 000 gevalle van die koronavirus is bevestig en 427 mense is reeds dood.

Wêreldhandel word deur die virus ontwrig. Hyundai het produksie in Suid-Korea opgeskort omdat hy sekere onderdele nie van China kan ontvang nie.

China se grootste raffinadery probeer tans miljoene vate ruolie wat hy nie meer nodig het nie, verkoop.

BP se finansiële hoof, Brian Gilvary, sê die krisis kan die groei in wêreldwye vraag na olie met ’n derde verminder.

Brent-ruolie het Dinsdag selfs tot $55,65 gehaal nadat dit Maandag tot net $53,95, die laagste in ’n jaar, geval het.

Die goedkoper olie sal in Maart goeie nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste kan meebring, maar dit word teengewerk deur die swakker rand van by die R14,80 teenoor die dollar.

Vanaf Vrydag – die begin van die oorsigmaand vir Maart se brandstofpryse – tot Maandag was daar reeds ’n oorverhaling van 33c per liter op die prys van 95-oktaan-petrol en van 63c per liter op die dieselprys. Dis egter veels te vroeg om te begin wed op ’n laer brandstofprys in Maart – baie water kan nog oor die volgende vier weke in die see vloei.

Intussen daal die petrolprys wel om middernag met 13c per liter en diesel met 5c per liter wanneer Februarie se pryse in werking tree.

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Opul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.