Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Olieprys val tot onder $50 per vat

Die kontantprys van Brent-ruolie het Woensdag in Londen die eerste keer sedert Julie 2017 tot onder $50 per vat geval.

Lae oliepryse is goed vir Suid-Afrikaanse motoriste, maar die swak rand werk teen dié voordeel.

Termynkontrakte in olie het met tot 1,1% gedaal nadat dit Maandag ook met 6,2% gedaal het en verlede week met 9,6% geval het.

Aleksander Nowak, Rusland se minister van energie, het beleggers op ’n Russiese televisiekanaal probeer gerusstel dat die olieprys in die eerste helfte van 2019 sal stabiliseer danksy die ooreenkoms tussen die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote (wat Rusland insluit) om produksie met 1,2 miljoen vate per dag te verminder.

Die olieprys het sedert sy vierjaarhoogtepunt van nagenoeg $86 per vat in Oktober reeds met meer as 40% geval.

Beleggers in olie is skepties of Opul se perke ’n duik in die wêreldvoorraad sal maak, gegewe dat Amerikaanse olieprodusente byna teen rekordvlakke olie uitpomp.

Terselfdertyd is daar ontwrigting in finansiële markte wat die olieprys ook onderdruk. Dit sluit in vrese oor die handelsoorlog tussen die VSA en China, tesame met die verhoging van Amerikaanse rentekoerse, wat die VSA se groei saam met die groei in die wêreldekonomie kan demp. Dit sal die vraag na olie onderdruk.

Opul en sy vennote vergader weer in April, maar kan besluit om die vergadering te vervroeg indien die perke wat in Januarie van krag word, nie die gewenste uitwerking het nie, het Nowak gesê.

Intussen is die lae olieprys goeie nuus vir Suid-Afrikaanse verbruikers, wat binnekort sal hoor met hoeveel petrol, diesel, gas en paraffien in Januarie goedkoper word.

Die Sentrale Energiefonds het nie oor die vakansiedae sy daaglikse oorverhalings (dus moontlike daling) uitgereik nie, en die nuutste beskikbare syfer is die een tot en met 21 Desember. Dit dui op ’n moontlike daling van R1,01 in die petrolprys en van R1,30 tot R1,32 in die groothandelprys van diesel.

Die swak rand, wat Woensdag in die omgewing van R14,60 gehuiwer het, verminder die positiewe uitwerking van die lae oliepryse.

Die oorsigmaand vir Januarie duur tot die einde van die handelsdag op 27 Desember en die pryse sal daarna aangekondig word – bes moontlik eers Maandag, maar dalk oor die naweek. Dit sal dan vanaf 2 Januarie geld.

Meer oor:  Opul  |  Rusland  |  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brent-Ruolie  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.