Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Oliepryse handhaaf hul hoë vlakke

Oliepryse was Donderdagoggend stabiel rondom $45 per vat vir Brent-ruolie en byna $43 vir Amerikaanse olie, berig Bloomberg. Oliepryse is nou op hul beste vlak in vier tot vyf maande, maar nog ver van die hoogtepunte in Januarie.

olieprys

Dit voorspel niks goed vir Suid-Afrikaanse brandstofpryse in September nie, want met die rand-dollar-wisselkoers wat sedert einde Julie weer skerp verswak het, dui dit op ’n verdere styging in plaaslike petrol- en dieselpryse.

Petrolpryse is verlede week met 5c per liter verhoog en dieselpryse met 45c. Die volgende prysaanpassings tree op 2 September in werking.

Die hoër olieprys word gesteun deur die jongste voorraadsyfers in Amerika wat dui op optimisme oor ’n volgehoue herstel in energievraag wat op koers is.

Olieboortorings in Midland in die Amerikaanse deelstaat Texas. Foto: Reuters

Die energie-inligtingsadministrasie het Woensdag laat weet ruolievoorraad het vir die derde agtereenvolgende week gedaal. Dit het olietermynkontrakte met 2,6% laat styg.

Dit is die eerste keer vanjaar dat olievoorraadvlakke in Amerika vir drie opeenvolgende weke afneem. Die vraag na petrol in Amerika het ook intussen gestyg tot waar dit was voordat inperkingsmaatreëls in Amerika ingestel is.

Woensdag was die eerste keer dat ruoliepryse bo hul 200-dae- bewegende gemiddelde sedert Januarie gestyg het, wat volgens ontleders ’n teken is dat dit uit die nou band kan breek waarbinne dit in die afgelope maande verhandel het.

Brent-ruolie was in Januarie nog bo $66 per vat, maar het daarna skerp geval en sedert Maart tussen $20 en $45 per vat verhandel. Amerikaanse oliepryse was in Januarie bo $63 per vat, en het daarna skerp geval en in April selfs vir die eerste keer negatiewe pryse op die termynmark behaal, waarna dit sedertdien tussen $20 en $40 per vat verhandel het.

Die Covid-19-pandemie is egter nog ver van verby, en ontleders verwag nie dat oliepryse binnekort tot vlakke voor die pandemie sal herstel nie.

Meer oor:  Olieprys  |  Petrolprys  |  Brandstof  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.