Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Oliepryse: skerpste val sedert 1991

Oliepryse het Maandagoggend die skerpste sedert die Golfoorlog in 1991 geval.

Brent-ruolietermynkontrakte – die internasionale olieprysmaatstaf, het binne enkele sekondes nadat die markte Maandag in Asië geopen het met soveel as 31% tot so laag as $31,20 per vat geval. Die Amerikaanse bankgroep Goldman Sachs waarsku oliepryse kan tot so laag as $20 per vat daal.

’n Gasvlam by ’n olieraffinadery van Shell in Deer Park, Texas. Oliepryse het Maandag die skerpste geval op een dag sedert die Golfoorlog in 1991.Foto: AP

Aan die begin van die jaar was oliepryse nog rondom $66 per vat.

Oliepryse was reeds onder druk weens die vrese oor die invloed van die koronavirus op ekonomiese groei en olievraag, maar die vonk in die kruitvat was Vrydag se ineenstorting van gesprekke tussen die Organisasie van Olie-uitvoerlande (Opul) en Rusland oor produksieperke. Saoedi-Arabië, een van die stigterslidlande van Opul, het gereageer met ’n prysoorlog.

’n Langdurige skerp laer olieprys kan die nasionale begrotings van lande soos Venezuela en Iran omvergooi.

’n Verlengde tydperk van goedkoop olie kan selfs die stryd teen klimaatsverandering knou as dit tot ’n stadiger oorgang na hernieubare energie lei. Maar regerings kan die lae pryse benut deur subsidies te sny en belasting op fossielbrandstof te verhoog, en die inkomste daaruit gebruik om in hernubare energie te belê, sê Ivetta Gerasimchuk van die Internasionale Instituut vir Volhoubare Ontwikkeling.

Skerp lae oliepryse kan ’n groter internasionale invloed hê as die handelsoorlog tussen Amerika en China omdat olie aan soveel goed in die wêreldekonomie gekoppel is, waarsku Rohitesh Dhawan, ’n ontleder van die Eurasia-groep in Londen.

China as die wêreld se grootste olie-invoerder sal voordeel trek uit rekordlae oliepryse, want sy herstel van die koronavirus is van kernbelang vir die wêreldekonomie. Maar vir Amerika, wat eers ook ’n groot olie-invoerder was en sou baat by ’n laer prys, is nou ’n netto uitvoerder van olie. Die laer ekonomiese vraag weens die koronavirus is boonop ’n demper op enige aansporing wat goedkoper olie sou bring.

olieprys

Die Amerikaanse skalie-revolusie – wat danksy nuwe horisontale boortegnologie en hidrobreking Amerika oor die afgelope dekade van ’n netto invoerder na ’n netto uitvoerder van olie en aardgas verander het – kan bedreig word deur die skerp laer oliepryse. Dit blyk dit was juis Rusland se plan deur nie in te stem tot ’n versoek van Opul vir nuwe produksieperke nie. Amerikaanse skalie-olieprodusente kan bankrot speel weens die laer pryse. Rusland het dié produsente as ’n bedreiging vir hul eie markaandeel beskou.

Saoedi-Arabië het Saterdag in reaksie op Rusland se hardkoppigheid sy oliepryse skerp verlaag. Saudi Aramco, die nasionale oliemaatskappy wat verlede jaar genoteer is, se aandeelprys het Sondag in reaksie daarop met 9% geval.

Die laer oliepryse plaas ook internasionale oliereuse soos BP en Shell onder druk.

Meer oor:  Opul  |  Olie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.