Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Omstrede kragskepe: Eskom wil óók nie byt

Eskom wil nie krag koop van die kragskepe wat die grootste deel van die noodkragtender van die regering gewen het nie, omdat hy bekommerd is oor die koste en lengte van die omstrede kontrak.

Een van Karpowership se kragskepe. Foto: Karpowership

So sê twee mense na aan die saak wat naamloos wil bly aangesien die nutsmaatskappy nog nie openbare kommentaar gelewer het oor die kragskepe nie.

Om die voorwaardes van Karpowership se 20 jaar-ooreenkoms na te kom, sal nog druk plaas op Eskom se reeds benarde finansiële posisie en hom verder blootstel aan fossielbrandstowwe, sê die mense.

Eskom sit met ’n kolossale skuldlas van meer as R464 miljard en sukkel om net die rente daarop te betaal ten spyte van talle reddingsboeie wat die staat aan hom gegee het.

Die Turkse Karpowership het ’n kontrak gekry om 1 220 megawatt (MW) se krag deur middel van drie van sy aardgas-aangedrewe kragskepe aan Suid-Afrika te verskaf.

Die noodkragtender, as deel van die onafhanklike kragprodusenteverkrygingsprogram vir risikoversagting, wat mik om teen Augustus 2022 sowat 2 000 MW aan die kragnetwerk te lewer, is daarop gemik om die impak van beurtkrag te versag, asook Eskom se afhanklikheid van sy peperduur dieselkragopwekkers te verminder.

Die sperdatum vir die ooreenkoms is voor die einde van Julie en is onderhewig aan ’n ooreenkoms met Eskom, sowel as toestemming van omgewings- en hawe-owerhede. Alle bieërs is dieselfde tydsraamwerk van twee dekades aangebied.

Eskom oorweeg sy opsies, insluitend die moontlikheid om Karpowership se koste vir die duur van die kontrak deur hoër kragtariewe te verhaal voordat ’n kontrak onderteken word, het ’n woordvoerder van die maatskappy in ’n e-pos-reaksie op navrae gesê. Sulke tariefverhogings benodig egter toestemming van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa).

Kragonderbrekings

Teenstand van Eskom, aan wie die opgewekte elektrisiteit volgens wet verkoop moet word, sal ’n belemmering wees vir die inwerkingstelling van die ooreenkoms met Karpowership en sal ’n speek in die wiel wees van pogings om Suid-Afrika se kragkrisis op te los.

Omgewingsaktiviste wat bekommerd is oor koolstofvrystellings deur die kragskepe, sowel as die DA, het sonder sukses gevra vir ’n parlementêre ondersoek na die ooreenkoms.

DNG Energy, ’n Suid-Afrikaanse aardgasonderneming wat onsuksesvol vir die tender gebie het, beweer daar was korrupsie met die toekenning van die tender aan Karpowership.

Karpowership, wat deel is van die Karadeniz Energy Group, ontken dat hy enige reëls oortree het.

“Ons is verheug dat ons gekies is as voorkeurbieër,” het ’n woordvoerder van Karpowership by navraag gesê. Die voorstel “voldoen volledig aan alle bodvereistes. Ons is nou besig met die nakoming van die sperdatums wat deur die departement van minerale bronne en energie uiteengesit is.”

Karpowership se ooreenkoms sal volgens ramings van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), ’n staatsinstelling, tot R218 miljard werd wees oor die loop van sy 20 jaar-kontrak.

’n Woordvoerder van die departement sê die regte proses word gevolg. Geen kontrakte met enige van die voorkeurbieërs is al deur die departement onderteken nie en slegs aanstellingsbriewe is uitgereik.

“Ooreenkomste word eers geformaliseer en onderteken sodra die projekte aan die spesifieke voorgeskrewe vereistes voldoen,” het die woordvoerder by navraag gesê. – Bloomberg, bygewerk

Meer oor:  Karpowership  |  Dng Energy  |  Eskom  |  Kragopwekking  |  Kragskepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.