Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Omstrede kragskepe gekelder oor besoedeling

Karpowership se kragskepe is amper vir seker nie meer op pad Suid-Afrika toe nie.

Karpowership se kragskepe besoedel te veel ingevolge Suid-Afrika se omgewingsregulasies om toegelaat te word om hier krag op te wek. Foto: Karpowership

Dit kom nadat die departement van bosbou, visserye en omgewingsake sy aansoek om ’n permit afgekeur het.

Die departement sê Donderdag in ’n verklaring hy het die aansoek van Karpowership om vyf kragskepe langs die Suid-Afrikaanse kus te parkeer om noodkrag uit aardgas op te wek, ingevolge omgewingsregulasies afgekeur.

In ’n omvattende omgewingsimpakstudie het die departement tot die gevolgtrekking gekom die kragskepe hou ’n te groot bedreiging vir die omgewing in.

Karpowership het ’n tender gewen vir die opwek van 1 220 megawatt (MW) se krag. Dit was deel van die versoek vir 2 000 MW se noodkrag ingevolge die departement van minerale bronne en energie se risiko-versagtende onafhanklike kragprodusenteprogram (RMIPPP).

Die afkeur van die omgewingspermit vir die kragskepe beteken die oorgrote meerderheid van die RMIPPP se noodkrag wat binne 18 maande tot die kragnetwerk gevoeg moet word, is nou onbeskikbaar.

Karpowership het egter onmiddellik sy eie verklaring uitgereik en gesê dat hy teen die besluit van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gaan appelleer.

Die departement maak wel voorsiening vir ’n appèlproses in sy besluit.

Karpowership trek te velde teen die besluit van die departement.

“Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het toegelaat dat ’n waninligtingsveldtog, gefinansier deur spesiale belange, die departement van minerale bronne en energie se strategiese plan om beurtkrag te beëindig en Suid-Afrika se ekonomiese en energiekrisis die hoof bied, laat ontspoor.”

Karpowership sê sy drie projekte in Saldanhabaai, Coega en Richardsbaai kan sowat 800 000 huishoudings van krag voorsien.

“Suid-Afrikaners moet verstaan dat die besluit namens die departement van bosbou, visserye en omgewingsake die lewering van dié krag bedreig en die toepassing van beurtkrag dus nog jare lank sal verleng.”

Kragkenners en omgewingsaktiviste was uit die staanspoor bekommerd oor verskeie aspekte van die kragskepe, insluitend die koste daarvan.

Greenpeace Africa maak uit ’n omgewingsoogpunt daarteen beswaar.

“Die voorgestelde liggings vir die kragskepe is wêreldbekend vir hul natuurskoon en oorvloedige seelewe. Die besluit om die skepe hier te posisioneer, bedreig dié gemeenskappe se lewensbestaan deur die voortbestaan van kleinskaalse visvang en ekotoerisme in gevaar te stel,” skryf Greenpeace op sy webwerf.

“Die projek bedreig die lewensgehalte van dié gemeenskappe deur lugbesoedeling, waterbesoedeling en ’n bydrae tot klimaatsverandering.

“Die verkryging van vloeibare aardgas (LNG) vir 20 jaar sal ons tot 2040 in ’n hoë-emissiebaan vassluit, ’n probleem waaraan hulle min of geen aandag gee in hul omvangsverslag.

“Karpowership het probeer en daarin geslaag om vrystelling te kry van die nakoming van die omgewingsimpak-beoordelingsproses voordat minister Barbara Creecy hul vrystelling teruggetrek het. Hulle het nie voldoende redes vir vrystelling verskaf nie.”

Vissersgemeenskappe meen dat die klankbesoedeling van die ongelooflik lawaaierige kragskepe visvangs onmoontlik sal maak naby die baaie waarin hulle vasgemeer word.

Ander bieërs vir die tender het aangedui dat hulle met ’n mengsel van hernubare son- en windkrag dieselfde hoeveelheid krag binne 18 maande kan verskaf.

Mededingers wat nié ’n tender gewen het nie, beweer dat korrupsie met die tenders plaasgevind het, iets wat Karpowership ook al herhaaldelik ontken het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.