Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Onafhanklike opwekkers se krag bly hoog

Verbruikers kan maar daarvan vergeet dat die regering se “heronderhandeling” van kontrakte met onafhanklike kragverskaffers tot veel laer kragtariewe gaan lei, sê verskeie kenners.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het vroeër ’n aanbeveling aanvaar om herfinansiering as meganisme te gebruik om kragtariewe te verlaag.

Large concentration of Power lines and pylons. (Ph
Onafhanklike kragprodusente is veral wind- en sonkragfirmas en dié wat biobrandstof gebruik. Foto: Getty Images

Die effense voordeel wat dit kan bring, sal glo in elk geval oorskadu word deur groot verhogings wat kan volg ná Eskom se hofsukses teen die energiereguleerder Nersa, wat versoeke vir groter tariefverhogings geweier het.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in Februarie verlede jaar groot ontsteltenis veroorsaak toe hy in die parlement aangedui het die regering wil die kragkoopooreenkomste wat hy in 2011 en 2012 met onafhanklike kragverskaffers aangegaan het, heronderhandel omdat die tariewe te hoog is.

Dít het gevolg op herhaalde klagtes van Eskom oor die tariewe, wat selfs daartoe gelei het dat die kragreus vanaf 2015 twee jaar lank geweier het om nuwe kragkoopooreenkomste te onderteken. Dít het die departement van energie se hoogs suksesvolle program om hernubare krag van onafhanklike kragverskaffers aan te koop tot stilstand gebring.

Ingevolge die program onderhandel die departement van energie oor die tariewe met onafhanklike kragverskaffers, maar Eskom is uiteindelik die party wat die krag aankoop en betaal. Sy koste vir die aankoop van dié energie word direk aan die verbruiker deurgegee.

Eskom het daardie uitstaande kontrakte wel uiteindelik onderteken ná verdere armdrukkery oor die tariewe.

Die tariewe waarop in 2011 en 2012 ooreengekom is, is besonder hoog vergeleke met latere ooreenkomste omdat dit daarop gerig was om baanbrekerbeleggers na ’n nuwe bedryf te lok. Dit het voorsiening gemaak vir ’n risikopremie omdat daar nog baie onbekende faktore was en alle komponente vir die kragstasies boonop ingevoer moes word.

Die tariewe is vasgestel vir die 20 jaar wat die projekte gaan duur met ’n inflasiegekoppelde, jaarlikse verhoging.

Gordhan se uitlating het vrese in die bedryf laat ontstaan dat die regering sy belofte sou verbreek en bedryfsleiers het gewaarsku dit sou beleggersvertroue ondermyn.

In September verlede jaar het Gordhan en Mantashe met rolspelers vergader en hulle gevra om vrywillig saam te werk om kragtariewe vir eindverbruikers te verlaag. Daarna het ’n taakspan bestaande uit verteenwoordigers van die departement van minerale bronne en energie, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die departement se kantoor vir onafhanklike kragverskaffers aanbeveel herfinansiering van die kragprojekte is die beste meganisme om tariewe af te bring.

k

Dít is volgens dr. Grové Steyn, besturende direkteur van Meridian Economics, ’n natuurlike ontwikkeling in die lewensiklus van dié projekte en algemeen in ander vennootskappe tussen die openbare en private sektor.

Wat gebeur, is dat die projekte aanvanklik deur banke gefinansier word, wat die finansieringskoste bepaal in die lig van die risiko daaraan verbonde. As die konstruksiewerk klaar is en die kraglewering en -aankope vlot verloop, verlaag die risiko en die eienaars van die projek kan dit probeer herfinansier met beter bepalings, soos ’n laer rentekoers.

Gewoonlik staan die banke dan opsy en institusionele beleggers soos pensioenfondse wat van die bestendige, inflasiegekoppelde inkomste oor ’n lang tydperk hou, neem die rol oor. Die eienaars wen in die proses en dit is dié voordeel wat die regering nou hoop om aan te wend om kragtariewe te verlaag.

Volgens riglyne vir herfinansiering wat die regering verlede week bekend gemaak het, sal die koste van die herfinansiering – dit is vir bankiers, regsgeleerders en ander konsultante – heel eerste van die voordeel afgetrek word. Die balans word dan gelykop verdeel tussen die eienaars van die projek en die regering. Die regering se deel is geoormerk om tariewe laag te hou.

Die herfinansiering is daarvolgens ’n vrywillige proses.

Tot dusver het sowat 70% van die 64 onafhanklike kragverskaffers in ronde een tot 3,5 aangedui hulle stel belang. Die regering moet nou met elkeen individueel onderhandel.

Volgens Mark van Wyk, hoof van ongenoteerde beleggings by Mer­gence, is finansieringskoste naas kapitaaluitgawes die grootste koste-item vir onafhanklike kragverskaffers. Nietemin verwag hy nie die herfinansiering van die 64 projekte sal ’n wesenlike verskil maak aan die kragtariewe wat eindverbruikers betaal nie.

Steyn beaam dit en Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarkbeleggings by Intellidex, sê dit kan so min wees soos ’n enkele sent per kWh op die gemiddelde Eskom-tarief van R1,09/kWh.

Montalto noem die heronderhandeling van hernubare kragkoopooreenkomste “ ’n politieke pond vleis” wat geëis word op grond van ’n wanvoorstelling van die kostekurwe van so ’n projek. Die bedryf kan egter aan die eis voldoen danksy ’n verlaging in finansieringskoste, sê hy. Nietemin sal die uitwerking daarvan op die gemiddelde tarief wat eindverbruikers betaal piepklein wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.