Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Onder G20 is SA steeds ’n steenkool-baba

Suid-Afrika is steeds die meeste afhanklik van steenkool vir kragopwekking van al die G20-lande, toon die jongste verslag van die navorsingsgroep Ember.

Die Kelvin-steenkoolkragstasie in Kemptonpark. Foto: City Press

Suid-Afrika kry 86% van sy elektrisiteit van steenkool, vergeleke met die wêreldgemiddelde van 34% en die naaste ander G20-lid, Indië, se 71%.

Hoewel wind- en sonkrag se bydrae tot Suid-Afrika se kragverbruik van 2% in 2015 byna verdriedubbel het tot 6% in 2020, is dit steeds ver onder die internasionale gemiddelde van 9,4%.

Dis klaar baie moeilik vir Suid-Afrika om sy kragnetwerk suksesvol van steenkoolafhanklikheid te speen, maar enige nuwe belegging in steenkoolkrag maak die uitdaging net soveel groter en verstrengel die lot van die ekonomie al nouer met dié van die steenkoolsektor, waarsku Euan Graham, ontleder wat die verslag vir Ember opgestel het.

Grootskaalse beleggings in goedkoper wind- en sonkrag is noodsaaklik om ordelik van steenkool af weg te skuif, meen hy.

Ember se jongste Global Electricity Review ontleed data van 68 lande se kragopwekking per energiebron. Die verslag wys daar was wêreldwyd in 2020 ’n rekorddaling in die gebruik van steenkool vir kragopwekking, en sterk groei in wind- en sonkrag.

Maar hoewel Suid-Afrika se afhanklikheid van steenkool nie in onlangse jare gegroei het nie en eerder met 7% gedaal het, is dit steeds ’n matige inkrimping vergeleke met ander G20-lande.

k

Ember wys intussen op die ongekende kragkrisis waarin Suid-Afrika hom bevind, met kragvraag wat sedert 2015 met 5,4% geval het. Die stygende koste van nuwe kragstasies het Eskom in ’n finansiële krisis gedompel, en hom genoop om kragtariewe skerp te verhoog, wat op sy beurt tot ’n stagnasie in kragvraag gelei het.

Terselfdertyd veroorsaak die gebrek aan instandhouding van ouer steenkoolkragstasies gedurige kragonderbrekings. Dit knou ekonomiese groei en sosio-ekonomiese ontwikkeling, bevind die verslag.

Die G20-land met die meeste wind- en sonkrag as persentasie van kraglewering is Duitsland, met meer as 30%, gevolg deur Brittanje met meer as 25% en Australië met byna 20%.

Die enigste lande met minder krag van wind- en sonkrag in die G20 is Suid-Korea, Rusland, Indonesië en Saoedi-Arabië.

Graham waarsku die omvang van die uitdaging om Suid-Afrika se kragnetwerk minder afhanklik van steenkool te maak is baie groot, maar so ook is die risiko’s om nie die ekonomie te diversifiseer en die kragstelsel weg van steenkool te skuif nie.

Die G20 is ’n internasionale ekonomiese samewerkingsforum wat bestaan uit 19 lande, sowel nywerheidslande as opkomende lande, tesame met die Europese Unie.

Ember is ’n navorsingsinstelling toegespits op die skuif na skoner kragbronne.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.