Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Ons gaan nié Eskom se skuld oorneem! – tesourie

Mense wat bespiegel dat die regering oorweeg om Eskom se skuld oor te neem, is “onverantwoordelik” en dit het ’n “skadelike effek” op die land se toekoms.

So het Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, Dinsdag in ’n onderhoud met Fin24 gesê.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie.

Mogajane het spesifiek verwys na gerugte wat veral Dinsdag op sosiale media vlamgevat het dat die regering ’n plan oorweeg om Eskom se kolossale skuldlas van R450 miljard net oor te neem.

Daar is ook ’n mening onder sakeleiers en ekonome dat die staat eerder moet oorweeg om dele van Eskom se skuld oor te neem in ruil vir ekwiteit.

In Februarie het Phakamani Hadebe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, byvoorbeeld gesê die maklikste manier om die kragreus te red sou wees as die regering ’n deel van Eskom se skuld oorneem.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, het in Julie aangevoer dat ’n skuld-vir-ekwiteit-verruiling oorweeg moet word, ten spyte van die nutsmaatskappy se behoefte aan ’n kontantinspuiting.

Boonop het die nuusdiens Bloomberg in Julie berig dat die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) oorweeg om sy beduidende aantal Eskom-effekte vir ekwiteit te ruil. Die OBK hou 20% van al Eskom se effekte.

Volgens Bloomberg het vyf onberispelike bronne met regstreekse kennis van dié besprekings gesê die voorstel was daartoe gemik om die OBK as ’n aandeelhouer in Eskom te vestig wat dan ook verteenwoordiging in die direksie sou kry en dus ’n sê sou hê oor die kragreus se finansies.

Dinsdag het Wayne McCurrie, ontleder van FNB Wealth and Investments, getwiet dat die rand versterk op die rug van “gerugte” oor ’n moontlike ooreenkoms waar die staat Eskom se skuld vir ekwiteit sou oorneem. Teen dié tyd het die rand reeds met 0,6% versterk tot R14,67 teenoor die dollar.

McCurrie het toe ook gesê die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), wat volgende week bekend gestel word, sal ’n uiters belangrike platform wees waarop die regering vrae oor Eskom moet beantwoord.

Mogajane het egter die idee van Eskom se skuld oorneem as heeltemal bog afgemaak.

“Ek weet niks daarvan nie,” het Mogajane gesê. “Niemand het nog so iets voorgestel nie. As ons enigiets het om aan te kondig, sal ons dit behoorlik doen.”

’n Spesiale bewilligingswetsontwerp het reeds vanjaar R59 miljard vir Eskom oor twee jaar beloof, terwyl ’n aparte reddingsboei van R69 miljard oor drie jaar ook toegeken is.

Gerugte van ’n skuld-vir-ekwiteit-verruiling kan die “waarde vernietig” wat die regering probeer skep.

“Mense versprei gerugte omdat hulle versteekte agendas het. Al wat ons weet, is dat die MTBR volgende week is,” het hy gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds in Desember 2018 gesê dat dit onwaarskynlik sal wees dat die regering Eskom se skuld vir ekwiteit sou ruil. Hy het toe eerder gesê daar word gekyk “na ’n reeks ander opsies”.

Fin24, verkort

Meer oor:  Eskom  |  Dondo Mogajane  |  Elektrisiteit  |  Mtbr2019  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings  |  Krag  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.