Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Ons is g’n in doodspiraal, sê Eskom

Eskom se sakemodel is nie onder beleg nie, en hy is nie in ’n doodspiraal, soos wat in sommige kringe bespiegel word, nie.

Dít is wat Eskom die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) wil wysmaak as deel van sy aansoek om R8,4 miljard se ekstra inkomste van sy toegelate inkomste vir die 2019-’20-boekjaar te verhaal.

’n Uitsig op die Ruacana-valle in die Kunenerivier, waar Nampower ’n hidrokragstasie het. Namibië moes egter in 2019-’20 meer krag van Eskom aankoop weens die droogte wat die watervlakke in die rivier vir die grootste deel van die jaar beperk het.

Daar is groeiende konsensus dat nutsmaatskappye en die groeiende aantal onafhanklike kragopwekkers finansieel volhoubaar kan saambestaan, meen Eskom.

Maar dit is slegs as Eskom sy tariewe so kan aanpas om sy kostestruktuur beter te weerspieël.

Eskom meen onafhanklike kragopwekkers skep nie ’n bestaanskrisis vir hom nie, want die werklike koste om heeltemal weg te breek van die nasionale kragnetwerk is steeds veel hoër as die heersende gemiddelde koste van elektrisiteit van Eskom af.

Volgens die kragverskaffer is dit dus nie sinvol vir maatskappye om op grond van pryse van Eskom weg te breek nie. Hy gee toe die redes vir maatskappye om dit wel te doen, is die betroubaarheid van kraglewering of om ’n skoner koolstofvoetspoor te hê.

Eskom meen die vooruitsig van ’n doodspiraal vir nutsmaatskappye is onrealisties solank daar nie lewensvatbare alternatiewe is nie.

In die rooi gedruk

Eskom pak intussen die skuld vir sy swak kraglewering op die regering se besluit in 1999 om hom nie toe te laat om nuwe kragstasies te bou om verwagte kragtekorte teen 2007 te voorkom nie. Dít, tesame met gedwonge kostebesnoeiings in die 2000’s, het daarop uitgeloop dat die instandhouding van sy steenkoolkragstasies al hoe meer agterweë gelaat is.

Eskom toon hoe ’n bose kringloop ontstaan het van kragstasies wat te hard laat werk is om genoeg krag te lewer, maar dan meer dikwels gebreek het.

In die 2019-’20-tariefjaar het tien van sy 15 steenkoolkragstasies minder krag as verwag gelewer. In dié boekjaar was daar 46 dae van beurtkrag, met 17 dae van beurtkrag net in Februarie 2020. Van Oktober 2019 tot Maart 2020 was daar elke maand beurtkrag.

Dít het ’n rimpeleffek gehad op Eskom se kragverkope en steenkoolaankope wat laer was, maar diesel- en brandstofolie-aankope het gestyg.

k

Internasionale verkope

Die oë rek intussen oor Eskom se internasionale kragverkope, wat toegeneem het in dieselfde tyd as wat hy plaaslik beurtkrag in die betrokke boekjaar moes toepas.

Eskom wys hy het R2,159 miljard meer krag aan buurlande verkoop. Dit was weens onder meer die Botswana Power Corporation wat in Junie 2019 met die opknapping van sy Morupule-kragstasie begin het (wat tot Maart 2023 gaan duur), wat beteken het dat Botswana meer krag van Eskom moes aankoop.

Die Swazilandse kragmaatskappy EEC het weens ’n groter vraag in sy besproeiingseisoen ook meer krag gekoop. Eskom moes ook meer krag verkoop aan Zambië, wat gewoonlik selfversorgend is, maar weens die droogte kon sy hidrokragstasies nie genoeg lewer nie.

Dieselfde het gebeur in Zimbabwe, asook in Namibië, waar Nampower se Ruacana-hidrokragstasie in die Kunenerivier se watervlak vir die grootste deel van die jaar te laag was.

Eskom sinspeel wel daarop dat hy nog meer elektrisiteit aan sy buurlande sou kon verkoop, was dit nie vir plaaslike tekorte nie.

Kredietgraderings

Eskom hark kredietgraderingsagentskappe se onlangse uitsprake oor koste-weerspieëlende kragtariewe nader in sy argument vir die aansuiweringsaansoek van R8,4 miljard by Nersa.

Hy verwys na Fitch en Standard & Poor’s se uitsprake in November 2020 waarin hulle meen as Eskom beter kragtariewe kan kry, hy minder van ’n las op die staatskas hoef te wees.

Hy onderstreep ook Moody’s se kommentaar in Desember 2020 dat hy meen die tariewe wat Nersa goedkeur, is nie genoeg dat Eskom stygende koste kan dek en ’n voldoende opbrengs op sy belegging kan behaal nie.

Meer oor:  Nersa  |  Eskom  |  Beurtkrag  |  Doodspiraal  |  Krag  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.