Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Ontwerpfoute by 3 Medupi-eenhede nou reg
Eskom se Medupi-kragstasie in Limpopo.

Te midde van Eskom se gesukkel om van dag tot dag genoeg krag te lewer, is daar wel ook ligpunte, blyk uit ’n paneelbespreking Woensdag van Futuregrowth.

Eskom het nou al die ontwerpfoute by drie kragopwekkingseenhede by die Medupi-steenkoolkragstasie in Limpopo herstel en dié eenhede loop nou voluit, het Sikonathi Mantshatsha, Eskom-woordvoerder, op die bespreking gesê.

Die foute by die Ingula-pompopgaarskema in die Drakensberge is in Maart al herstel.

Selfs Eskom se pogings om die inwoners van Soweto te oortuig om vir hul elektrisiteit te begin betaal, blyk vrugte af te werp.

Volgens Eskom se Twitter-rekening wat oor die paneelbespreking berig het, was daar in Maart voor die inperking darem al 25% van kragverbruikers in Soweto wat betaal vir hul krag, teenoor die helfte soveel in die verlede.

Die tempo waarteen munisipaliteite hul agterstallige kragrekeninge aan Eskom begin betaal, groei ook teen ’n stabiele 5% per maand sedert Eskom in Februarie streng stappe teen die Emfuleni-munisipaliteit gedoen het, volgens Eskom.

Dit was toe Eskom ’n lasbrief vir beslaglegging op die munisipaliteit se roerende bates uitgereik het weens agterstallige skuld van R1,8 miljard. In Maart het Eskom die lasbrief teruggetrek nadat ’n afbetalingsooreenkoms bereik is.

Die herstel van die ontwerpfoute by Medupi naby Lephalale is ’n projek wat ook al jare sloer.

Alex Ham, ’n afgetrede ingenieur van Eskom, het verlede jaar verduidelik die stoomketels en die steenkoolmeule by Medupi was van die verkeerde ontwerp.

Die Japanse verskaffer Mitsubishi Hitachi, wat Medupi en Kusile se stoomketels oorspronklik verskaf het, het net ervaring van Australiese en Japanse steenkoolbronne gehad, terwyl Suid-Afrikaanse steenkool growwer is en stadiger brand. Daarom moes die stoomketels groter gewees het.

Omdat die meule by die kragstasie nie die steenkool fyn genoeg maal nie, lei dit volgens Ham tot buitensporige slytasie. Eskom het later gesê hy sal Ham se advies in ag neem.

Meer oor:  Eskom  |  Medupi  |  Kragstasie  |  Kragopwekking  |  Kragvoorsiening  |  Elektrisiteit  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.