Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Oplaas ’n groen lig vir gaskrag

’n Belangrike stukkie van Suid-Afrika se toekomstige kraglegkaart het pas in sy plek geval toe die Transnet Nasionale Hawe-owerheid ’n lisensie aan DNG Energy toegestaan het vir ’n drywende bergingseenheid vir vloeibare aardgas (VAG) in die Koega-hawe.

Een van DNG Energy se twee bunkerskepe, wat vloeibare aardgas van die drywende bergingseenheid in die Koega-hawe na ander skepe en hawens sal vervoer.

Dít sal die groep goed posisioneer vir die regering se planne om binnekort 3 000 MW se gasopwekkingsvermoë aan te koop.

Dit is die eerste lisensie in sy soort wat die invoer van groot hoeveelhede vloeibare aardgas moontlik maak.

Die kragkenner Chris Yelland beskou dit as ’n belangrike stap om gas beskikbaar te stel vir kragopwekking. Gasopwekking speel ’n belangrike rol in die land se toekomstige kragverskaffing om die wisselvallige wind- en sonkrag aan te vul. Daarsonder sal die kragnetwerk onstabiel wees, wat kragvoorsiening kan belemmer.

Aldworth Mbalati, uitvoerende hoof van DNG Energy, sê dit het ses jaar geneem om al 17 vereiste regeringsgoedkeurings te kry, waarvan dié die laaste is.

“Die burokrasie is ’n nagmerrie!” sê hy.

Die bergingseenheid, die grootste wat nog op die vasteland gebou is, is gereed en sal volgens hom in die eerste kwartaal van volgende jaar op sy plek wees. Dit is 300 m lank en kan 150 000 m³ vloeibare aardgas berg.

Daar is tans internasionaal ’n oorskot gas en pryse is relatief laag. Volgens Mbalati sal DNG dit teen die beste pryse aankoop van verskaffers in lande soos Katar, die VSA, Australië en Rusland.

Twee bunkerskepe sal die vloeibare aardgas van die bergingseenheid vervoer na ander skepe vir brandstof of na ander hawens, van waar dit per pad of spoor in houers na binnelandse kliënte versprei sal word.

Dit is volgens ’n energiekenner dieselfde model wat vroeër gebruik is om Spanje die VAG-spilpunt in Europa te maak.

Aldworth Mbalati, uitvoerende hoof van DNG Energy.

DNG het ook reeds verskeie kommersiële kliënte wat gas benodig vir die vervaardiging van onder meer aluminium, glasprodukte, nywerheidsgas en mynbou.

DNG sal die vloeibare gas self op sy kliënte se perseel verhit en die gas lewer gereed om te gebruik vir kragopwekking of as alternatiewe energiebron.

Die infrastruktuur wat daarvoor op ’n kliënt se perseel nodig is, kan binne ses maande voltooi word, sê Mbalati.

“Ons verkoop gas, ons verkoop nie hoofbrekens aan enigiemand nie,” sê hy.

Hulle teiken ook die vervoermark as deel van hul afsetgebied en beplan ’n hele verspreidingsnetwerk.

Met hul nuwe vermoë sal DNG volgens Mbalati 2 000 MW elektrisiteit kan opwek.

Dit is vir die maatskappy egter net die begin en hy het ook sy oog op die omskakeling van Eskom se peperduur gasturbines na gas, waaroor die kragreus al jare praat.

Dit sal groot besparings meebring.

Hy glo die regering is te konserwatief met sy planne vir kragaankope.

“Eskom het klaar ’n kragtekort van 5 000 MW. As ’n mens in gedagte hou dat die steenkoolkragsentrales se beskikbaarheid maar 57% is en baie van hulle binnekort die einde van hul leeftyd bereik, is die tekort nader aan 10 000 MW.

“Hulle koop net 3 000 MW vir gasopwekking en dit is te min. Gas moet ’n groter rol speel,” sê hy.

Die belegging in die bergingseenheid is sowat R1 miljard. DNG huur vir eers die twee bunkerskepe, maar beplan om later ’n verdere aansienlike belegging te maak in hul eie skepe.

Mbalati, wat DNG in 2013 gestig het met die doel om die energielandskap in Suid-Afrika te verander, is nie iemand wat glo in kunsmatige bemagtiging nie. “Ek vra net ’n gelyke speelveld,” sê hy.

DNG is ’n familieonderneming, wat tot hier gekom het sonder enige buitelandse hulp of bemagtigingstransaksie, sê hy.

Die maatskappy spog met swaargewigte soos lord Peter Hain en die voormalige Krygkor-hoof Kevin Wakefield in sy direksie.

Meer oor:  Transnet  |  Eskom  |  Aardgas  |  Krag  |  Groenkrag  |  Gas  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.