Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Opul se nagmerrie verrys in Amerika

Wins of markaandeel?

Dit is waartussen die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) op sy vergadering op 6 Desember moet kies in die lig van die vinnige en doeltreffende groei van Amerikaanse skalie-olieproduksie.

’n Amerikaanse vlag bo-op ’n raffinadery in die VSA. Foto: Getty Images

In minder as ’n dekade het Amerikaanse maatskappye 114 000 nuwe skalie-olieputte in die Perm-kom in Wes-Texas en ’n deel van Nieu-Mexiko geboor.

Amerika se oliebedryf het in Augustus 15,9 miljoen vate per dag geproduseer – sowat 3 miljoen vate meer as in Augustus 2017. Die styging is gelykstaande aan die totale olieproduksie van Koeweit.

Dit was onverwags nadat wyd verwag is Amerikaanse ruolieproduksie sou vanjaar ’n plato bereik. Die jaar-tot-jaar-produksiestyging in Amerika was die grootste in 98 jaar.

Die groter produksie druk oliepryse laer namate voorraad opbou. Dit is slegte nuus vir Opul.

In Oktober het die 15 Opul-lede saam 32,9 miljoen vate ruolie per dag geproduseer.

In 2014 het Opul die mark oorstroom met surplus-olie. Dit het die olieprys so skerp laat val dat die skalie-olieprodusente wat die slagting oorleef het, so doeltreffend geword het dat hulle vandag kan wins maak op ’n olieprys so laag soos $30 per vat.

Opul het ’n hoër prys nodig om wins te maak en sukkel reeds teen $60 per vat.

Goeie nuus vir motoriste?

Die druk op internasionale oliepryse gaan ’n vroeë Kersgeskenk vir Suid-Afrikaanse motoriste bring.

Met net ’n week oor voordat brandstofpryse vasgestel word, is die oorverhaling op 95-oktaan-petrol nou R1,71 per liter en op diesel R1,21 per liter.

Hiervan sal die Sentrale Energiefonds waarskynlik weer ’n balansheffing (oftewel Slate-heffing) aftrek om die balansheffingsrekeningsfonds (Slate) aan te vul waaruit hy brandstofmaatskappye moet vergoed vir enige verliese wat hulle ly as die prys waarteen hulle brandstof aankoop, in die loop van die maand styg.

In November is ’n balansheffing vir die eerste keer in jare ingestel. Dit was ’n nagenoeg 22c per liter. Die regering kan besluit om die heffing aansienlik te verhoog ten einde vinniger die R2,2 miljard wat die Slate in die rooi is, uit te wis.

Die dramatiese opkoms van die Amerikaanse oliebedryf is Opul se grootste uitdaging in die 60 jaar van sy bestaan. Saoedi-Arabië het in November aangekondig dat hy sy verskeping van olie met 500 000 vate per dag sou sny en dat hy die ander Opul-lede sou probeer oortuig om ook produksie te sny.

As Opul wel op 6 Desember besluit om produksie te sny, sal oliepryse styg, maar dit sal ook die ongewenste gevolg hê dat die uiters mededingende Amerikaanse produsente markaandeel sal steel. Maar omdat Saoedi-Arabië hoër pryse nodig het om ’n wins te maak, kan hy die verdere daling in pryse nie bekostig nie.

In 2019 gaan Opul se nagmerrie groter word. Wanneer die skalie-olie-produsente in die Perm-kom hul verspreidingsprobleme oplos met drie nuwe pypleidings, kan hul produksie met nog 2 miljoen vate per dag toeneem.

“Die Perm sal aanhou groei en Opul sal moet leer om daarmee saam te leef,” sê Mike Loya, Vitol se hoof in die Amerikas. Vitol is die wêreld se grootste onafhanklike oliehandelaar.

Amerika verwag om teen die einde van 2019 17,4 miljoen vate per dag te produseer. Op dié vlak sal die netto Amerikaanse invoer van petroleum in Desember 2019 val tot 320 000 vate per dag. Dit sal die laagste vlak wees sedert 1949 en daar kan dalk selfs een week wees waarin die land ’n netto olie-uitvoerder is – iets wat 75 jaar gelede laas gebeur het.

Die Saoedi’s weet die Amerikaanse olie-tsoenami kom, maar intussen sal die waarskynlikheid van produksie-opskortings deur Opul steeds opwaartse druk op oliepryse plaas. Bloomberg, verwerk

Meer oor:  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Opul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.