Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
O.R. Tambo se Aerocity-projek sprei sy vlerke

Die O.R. Tambo-lughawe het Dinsdag amptelik sy ontwikkelingsprojek van R4,5 miljard van stapel gestuur.

OR Tambo lughawe
’n Kunstenaarsvoorstelling van fase een van die ontwikkeling van die O.R. Tambo-lughawe se westelike gebied. Dit word gebou op wat voorheen parkeergebied nommer vyf was. Die ander ses fases van die projek sal uiteindelik al die pad van die noordelike parkeergebiede tot teenaan die Southern Sun Hotel strek.

Dié eerste van uiteindelik sewe fases behels die bou van drie sesverdiepingkantoorgeboue wat onder meer die nuwe hoofkantoor van sowel die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) as die Burgerlugvaartowerheid (BLO) sal huisves.

Die eerste fase van die projek sal einde Februarie begin en teen einde 2020 voltooi word.

Die doel van die groter projek is om die lughawe in ’n sogenoemde Aerocity te omskep wat as ’n sentrale ontwikkelingsnodus vir die omliggende gebied sal dien.

Bongiwe Pityi-Vokwana, hoofbestuurder van O.R. Tambo, het Dinsdag op die sooispit-seremonie gesê as die besigste lughawe in Afrika en die internasionale poort na Suid-Afrika, “is dit noodsaaklik dat die O.R. Tambo-lughawe ’n wêreldwye landmerk bly met wêreldklas-infrastruktuur en ’n groot verskeidenheid dienste vir alle gebruikers en markte”.

“Die ontwikkeling van die westelike gebied van die lughawe is deel van ’n strategie om ons aanbod aansienlik uit te brei en om nuwe bronne van groei vir die hele streek te dryf.”

BLO
Die voorstelling van die drie nuwe kantoorgeboue wat ook die hoofkantoor van Acsa en die BLO sal huisves.

Uiteindelik sal die ontwikkeling nog nuwe kantore, kleinhandelsruimte, hotel- en konferensiegeriewe asook bykomende verwante dienste byvoeg om die kern van ’n voorstad te skep.

Die konsortium in vennootskap met wie Acsa die ontwikkeling doen, word deur Mandla Mlangeni, direkteur van MMQSMace gelei.

Mlangeni het op die seremonie gesê hy en die konsortium wil dié projek esteties ongelooflik maak.

“Ons het deur onder meer Sandton gery en na die ultramoderne geboue gekyk vir inspirasie en besluit ons gaan die beste span saamstel om die O.R. Tambo-projek, wat ontwerp en groentegnologie betref, werklik spesiaal te maak.”

Mlangeni sê die betrokke span argitekte, kontrakteurs en ingenieurs het al op talle van Suid-Afrika se mooiste en modernste projekte gewerk in onder meer Sandton en die ikoniese Silo-hotel in die Waterfront in Kaapstad.

Acsa
Die sooispitseremonie is Dinsdag by die O.R. Tambo-lughawe gehou om die ontwikkeling van die westelike gebied van die lughawe af te skop. Foto: William Horne

Maar Acsa het dit ook duidelik gemaak dat dié projek juis ontwikkeling en ekonomiese groei wil aandryf en nie net daarop reageer nie. Die uitbreiding sal volgens Pityi-Vokwana sowat 1 100 poste skep vir veral plaaslike gemeenskapslede, maar as infrastruktuurprojek sal dit die plaaslike ekonomie nóg meer ondersteun.

Acsa sê Suid-Afrika het die ongelukkige gewoonte om reaksionêre besluite te neem ten opsigte van infrastruktuur, “maar ons gaan dié tendens omkeer”.

“Noag het tog nie sy ark eers begin bou toe dit reeds begin reën het nie, het hy?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.