Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Outa eis dringende ingryping oor krag

Dringende ingryping is nodig by Eskom as hy Maandag soveel as 4 000 MW se krag moes sny, sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa).

Ronald Chauke, portefeuljebestuurder oor energie by Outa.

Ronald Chauke, Outa se portefeuljebestuurder oor energie, sê Eskom het ’n totale kragopwekkingsvermoë van 47 000 MW (en selfs meer as eksterne bronne soos ingevoerde krag van die Cahora Bassa-hidrokragstasie in Mosambiek ingereken word).

Normaalweg word 20% hiervan opsygeskuif vir instandhouding en onvoorsiene omstandighede, so Eskom behoort dus genoeg kragopwekking te hê om aan sowat 38 000 MW se kragvraag te voldoen. Dit behoort volgens Chauke meer as genoeg te wees vir die huidige vraag van tussen 26 000 MW en 29 000 MW. Maar as Eskom Maandag tot fase-4-beurtkrag moes oorgaan beteken dit kragopwekking was 4 000 MW minder as die huidige vraag.

Dit beteken Eskom se energiebeskikbaarheid is rondom ’n lae 65% terwyl dit veronderstel is om op minstens 80% te wees.

Chauke meen Eskom behoort te verduidelik hoe soveel as ses kragopwekkingseenhede Maandag tegelykertyd uitgesny het, en wat die werklike omvang van sy uitdagings is.

Dis tyd dat Suid-Afrika selfkragopwekking op groot skaal toelaat en aanmoedig.
Ronald Chauke, Outa

Wat veral kommer wek is dat die nuwe kragstasies - Medupi en Kusile - ook sukkel. Twee van die kragopwekkingseenhede by Medupi was onder die ses wat Maandag afgeskakel het en tot fase-4-beurtkrag bygedra het.

Boonop is ’n Eskom-kontrakteur in sakeredding en het hom aan Medupi onttrek terwyl Eskom se noodvoorraad van diesel en water laag is.

Dis tyd dat Suid-Afrika selfkragopwekking op groot skaal toelaat en aanmoedig, sê Chauke. Daar is glo meer as 2 000 MW se aansoeke vir selfkragopwekking wat op staatsgoedkeuring wag.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool waarsku beleggings, werkgeleenthede, verbruikersbesteding en begrotingsprojeksies is alles in gevaar as die jongste krisis by Eskom nie so gou moontlik opgelos word nie. Die regering en private sektor moet dringend noodstappe doen om die negatiewe impak daarvan op die ekonomie te beperk.

Die konsensusvooruitskatting dat die ekonomie vanjaar met sowat 1,4% sal groei sal verder verlaag moet word as Eskom nie gou gestabiliseer word nie, waarsku Parsons.

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s, wat teen einde Maart sy nuwe gradering oor Suid-Afrika sal bekend maak, sê Eskom is nou die enkele grootste risiko vir die ekonomie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.