Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Parlement los sy eie ondersoek na Eskom-baas

Eskom het 90 dae om sy ondersoek na die bewerings teen André de Ruyter, uitvoerende hoof, af te handel.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. Foto: Deon Raath

Só het die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) Woensdag besluit.

Skoor het ingestem tot ’n versoek van Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, om sy eie beplande ondersoek na die bewerings teen De Ruyter vir eers te staak.

Dit kom nadat die Eskom-direksie adv. Ishmael Semenya verlede week aangestel het om ’n ondersoek na die bewerings van rassisme en magsmisbruik teen De Ruyter te lei. Volgens Skoor het Solly Tshitangano, geskorste verkrygingshoof van Eskom, die aantygings al 14 maande gelede gemaak.

Mkhuleko Hlengwa, voorsitter van Skoor, meen juis die komitee gaan sterk beswaar maak dat Eskom so lank gesloer het om Tshitangano se bewerings te ondersoek.

Aan die ander kant het De Ruyter in ’n beëdigde verklaring aan Skoor, wat blyk teen Woensdag nog nie eens deur alle komiteelede ontvang en gelees is nie, aangevoer dat Skoor se tyd deur Tshitangano se “valse en lasterlike bewerings” gemors word.

De Ruyter verduidelik in die verklaring die klagtes wat tot Tshitangano se skorsing in Februarie gelei het, is veel erger as waaroor al berig is.

LEES OOK: De Ruyter: Parlement se tyd gemors oor ‘rassisme’

ANC-lede van Skoor het Woensdag saamgestem dat die komitee maar eers sy eie ondersoek moet laat vaar totdat Eskom se ondersoek afgehandel word, maar Veronica Mente, EFF-lid van die komitee, het gemeen Skoor se ondersoek behoort wyer as bloot rassisme te strek.

Volgens haar moet dit oor verslae deur onder meer die ouditeur-generaal, die nasionale tesourie en die spesiale ondersoekeenheid oor onreëlmatige in die verkrygingsprosesse by Eskom gaan.

Sakhumzi Somyo (ANC) het Mente daarop gewys dat Eskom se ondersoek wel ook al die finansiële aspekte insluit.

Mervyn Dirks (ANC) het daarop gewys dat dit ’n vermorsing en duplisering van staatsbronne sal wees as die komitee voortgaan met sy ondersoek terwyl Eskom se ondersoek reeds aan die gang is.

Dirks is wel vies dat Eskom se direksie volgens hom nie uit die staanspoor oop kaarte met Skoor gespeel het nie. “Tshitangano is ’n senior amptenaar by Eskom, maar die direksie en Gordhan het niks aan sy klagtes gedoen nie.”

Dit was eers toe Skoor wou weet waar die amptenare is wat sekere tenders goedgekeur het dat Eskom gesê het Tshitangano is met siekverlof – en toe moes die komitee later hoor dat hy eintlik geskors is.

Benedicta van Minnen, DA-lid in die komitee, het op haar beurt gesê die komitee moenie toelaat dat sy aandag afgelei word deur mense se briewe nie, terwyl daar baie ernstige kwessies by Eskom is wat dringend aandag moet kry.

krag
Die ondersoek na bewerings van rassisme by Eskom moenie langer as drie maande duur nie, meen die parlement.
Oracle-debakel

Van Minnen het verwys na die jongste debakel oor ’n kontrak van Eskom met die IT-verskaffer Oracle. Sy meen dié kwessie kan die land in ’n krisis dompel.

Dit gaan oor ’n kontraktuele dispuut tussen Eskom en Oracle, waarvolgens laasgenoemde meen dat die kragreus hom sowat R7,3 miljard te min vir tegniese steundienste betaal het. Eskom ontken dit, en Oracle het sy eis tot net onder R400 miljoen verminder.

Volgens Eskom is hy egter net sowat R166 miljoen aan Oracle verskuldig. Die hooggeregshof het verlede week ’n aansoek van Eskom van die hand gewys om Oracle te dwing om sy kontrak vir tegniese steundienste aan hom tot April 2022 te handhaaf. Eskom wil teen die hofbeslissing appelleer.

Alf Lees (DA) het ook gesê Skoor moet hom nie laat ontspoor nie en moet fokus op die ondersoeke van die Valke om die skelms vas te trek wat Eskom van hulpbronne beroof het.

Volgens Hlengwa lyk dit asof die vooraf uitlekking van De Ruyter se verklaring aan die komitee ’n “oefening in openbare betrekkinge aan die kant van sommiges was” – sonder dat hy na Eskom verwys het.

Hlengwa meen die feit dat Eskom besluit het om wel Tshitangano se bewerings te ondersoek is tot Skoor se voordeel, want dit wys die komitee se druk het die gewenste uitwerking gehad. Dit is hoewel hy ook meen dat Eskom al lankal die bewerings moes ondersoek het.

Meer oor:  Skoor  |  Eskom  |  Oracle  |  Pravin Gor­Dhan  |  Alf Lees  |  André De Ruyter  |  Krag  |  Tenderbedrog  |  Verkrygings  |  Elektrisiteit  |  Staatskaping  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.