Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Pas Eskom geheime beurtkrag toe?

Daar is nie op die oomblik beurtkrag nie, maar sogenaamde ladingsvermindering is besig om al hoe meer woonbuurte te tref. Wat is dit, en is Eskom besig om op agterbakse wyse krag te spaar?

  

Ter illustrasie. Foto: Getty Images

Gerugte doen die afgelope ruk die ronde dat Eskom “geheime beurtkrag” in die vorm van ladingsvermindering toepas in ’n poging om nasionaal die ligte aan te hou.

Maar ’n kenner meen dit is nie so nie.

“Daar is niks geheimsinnigs aan wat Eskom doen nie,” sê Chris Yelland, energiekenner en besturende direkteur van EE Business Intelligence.

In Eskom se eie woorde is die rede vir ladingsvermindering eenvoudig: “Ladingsvermindering word gedurende spitstye, van 05:00 tot 09:00 en 17:00 tot 21:00, toegepas. Dis om Eskom-toerusting soos transformators en minisubstasies te beskerm teen ontploffings wat veroorsaak word deur onwettige verbindings of peutering wat die toerusting oorlaai. Dis ook om eiendom te beskerm teen skade wat tot ontploffings lei.

“Ladingsvermindering word toegepas in digbevolkte gebiede wat hul krag direk van Eskom kry, en gebiede met ’n groot aantal onwettige verbindings gedurende die tye wanneer die grootste skade gebeur.”

Volgens Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, is die kraggebruik wat só uitgeskakel word, “weglaatbaar klein”.

In plakkershutte waar mense onwettige kragverbindings het, word byvoorbeeld ’n stoof aangesit in spitstye wanneer hulle tuis kom om die kamer te verhit. Honderde tot duisende mense doen dit in daardie tyd.
Sikonathi Mantshantsha

Yelland stem daarmee saam. Hy sê ladingsvermindering as ’n metode om krag te bespaar, is nie doeltreffend nie.

Dit is heeltemal daarop gerig om infrastruktuur te beskerm en het niks met Eskom se opwekkingsafdeling te doen nie, eerder sy verspreidingsnetwerk en -afdeling.

“Jy moet dink aan die regte plekke hier,” sê Mantshantsha.

Hoe weet jy of jy geraak word?

Eskom twiet daagliks om 15:00 ’n lys van die buurte wat weens ladingsvermindering hul krag vir sowat twee uur tydens die spitstye sal verloor.

“Ladingsvermindering gebeur hoofsaaklik in townships. In plakkershutte waar mense onwettige kragverbindings het, word byvoorbeeld ’n stoof aangesit in spitstye wanneer mense tuis kom om die kamer te verhit. Honderde tot duisende mense doen dit in daardie tyd.”

Wanneer dit gebeur, is die probleem dat transformators nie ontwerp is om die tientalle meer verbindings wat onwettig tot die kragdrade gemaak word, te hanteer nie.

Die eindresultaat is dat die transformators ontplof.

Mens kan nie so ’n transformator herstel as hy eers blaas nie. Hy moet heeltemal vervang word.
Sikonathi Mantshantsha

“Dis in gebiede waar mense doodeenvoudig nie betaal vir krag nie.”

Die paar wat dit wel doen, sit dan sonder elektrisiteit omdat die infrastruktuur heeltemal verwoes word weens die onwettige verbindings en die dienooreenkomstige reuse-styging in kraggebruik tydens spitstye.

R80 000 per transformator

“Diegene wat betaal vir krag, sit dan vir weke sonder elektrisiteit omdat dit so moeilik is om transformators heeltyd te vervang,” sê Mantshantsha.

Eskom bestee miljarde rande aan die vervanging van ontplofte transformators, juis weens onwettige verbindings.

In die 2020-’21-boekjaar, wat einde Maart eindig, het dié soort ontploffings die kragverskaffer al meer as R1 miljard gekos om net transformators en minisubstasies te vervang.

Daar is meriete in wat Eskom sê.
Chris Yelland

Mantshantsha verduidelik dat elke transformator bo-op kragpale in residensiële gebiede R80 000 kos.

“Mens kan nie so ’n transformator herstel as hy eers blaas nie. Hy moet heeltemal vervang word.”

Oor die afgelope paar maande het daar in Gauteng 600 transformators ontplof weens oorlading van onwettige verbindings.

Dit beteken net in Gauteng is daar al onlangs meer as R48 miljoen bestee om transformators te vervang.

En volgens Eskom kan dit doodeenvoudig nie so aangaan nie. “Wanneer die onwettige verbindings erg raak, dan ontplof die minisubstasies sommer ook. Dit kos R350 000 elk.”

Dit laat betalende gebruikers dikwels weke tot selfs maande sonder krag.

“Daar is meriete in wat Eskom sê,” meen Yelland. Verspreiding-infrastruktuur is peperduur en moet beskerm word, meen die energiekenner.

Eskom het deur middel van sy veldtog vir ladingsvermindering al oor die afgelope jaar dat hy dit toepas die skade aan infrastruktuur met 60% verminder.

Boodskap aan wanbetalers

Maar Yelland sê wel die beskerming van infrastruktuur is nie al rede vir die toepassing van ladingsvermindering nie.

“Hulle gebruik dit ook as ’n manier om vir die gebiede ’n boodskap te stuur.”

Die boodskap is dat Eskom nie meer elektrisiteitsdiefstal sal duld nie. En dit dwing betalende gebruikers om druk uit te oefen op hul gemeenskap om in te gryp teen diefstal.

Eskom het verlede week vir die eerste keer in sewe provinsies ladingsvermindering toegepas. Dit het meer as ’n honderd woonbuurte en subgebiede geraak.

Yelland sê mens moet ook nie vergeet nie: Ladingsvermindering word met die “hoogste vlak van politieke ondersteuning” gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.