Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol amper weer so duur soos in 2019

Petrolpryse is ná die jongste skerp verhoging byna weer waar dit in 2019 laas was.

strooptyd, stroop, oes, mielies, stroper, brandsto
Die oes van somergraan is om die draai en boere berei ook voor vir wintergraanaanplantings, wat die vraag na diesel sal laat klim. Foto: Johan Norval

Petrolpryse word Woensdagoggend met 65c per liter tot R16,32 verhoog – vir 95-oktaan petrol in Gauteng – volgens die finale syfers wat die departement van minerale hulpbronne en energie Dinsdagmiddag uitgereik het.

Aan die kus sal 95-oktaan petrol voortaan R15,62 per liter kos.

Petrol was laas só duur in Mei en Junie 2019, toe dit in Gauteng R16,67 en R16,76 gekos het. Dit het daarna stelselmatig gedaal – tot so laag as R12,22 in Mei verlede jaar, toe die oliepryse in die Covid-19-pandemie internasionaal skerp geval het.

Diesel se groothandelpryse word met 54c per liter verhoog vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% en 56c vir dié met ’n swaelinhoud van 0,005%. Paraffienpryse sal met 47c per liter styg en gaspryse met 87c per kilogram.

Maar vandeesmaand se hou in die maag vir motoriste is net die begin met April se syfers. Dít sal deur die jaarlikse verhoging in brandstofbelastings opgedruk word. Dit is wanneer die nuwe brandstofheffing in werking tree. Die heffing word tot R3,85 per liter vir petrol en tot R3,70 vir diesel verhoog. Die Padongelukfondsheffing word tot R2,18 verhoog en die koolstofbelasting van 7c tot 8c per liter.

Was dit nie vir ’n effense versterking in die randdollar-wisselkoers oor die afgelope maand nie, sou petrolpryse met byna 80c moes styg, volgens die departement se syfers.

Die duurder brandstof kom op ’n slegte tyd vir kleinsakeondernemings, asook die landbou, het kommentators van FNB gesê. Boere berei hulle binnekort voor vir wintergraanaanplantings. Verlede jaar het boere net meer as 751 000 hektaar se koring, gars, kanola en hawer aangeplant en die verwagting is dat hulle vanjaar, gegewe die gunstige vooruitsigte vir landbou, meer sal aanplant, sê Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Agri-Business.

Daarby is die oes van somergrane om die draai en dus word verwag dat die vraag na en verbruik van brandstof sal toeneem.

Makube waarsku dat die huidige tendens in oliepryse opwaarts is en dat dit niks goeds vir produksiekoste voorspel nie.

Brent ruoliepryse is weer bo $60 per vat. Dis nou 18% meer as ’n jaar gelede.

Meer oor:  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.