Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol dalk R1 goedkoper in April
Die brandstofprys kan in April met soveel as R1 daal.

Suid-Afrikaners kan uitsien na ’n moontlike petrolprysverlaging van soveel as R1 per liter in April, selfs al tree die jaarlikse verhoging in brandstofheffings dan in.

Die Sentrale Energiefonds (SEF) se jongste syfers wat Maandag se skerp val in oliepryse en internasionale brandstofpryse ook in berekening bring, toon ’n oorverhaling van soveel as R1,62 per liter op petrol en R1,65 per liter op diesel.

Die gemiddelde oorverhaling sedert 28 Februarie staan op 78c vir petrol en 90c vir diesel. Maar as Maandag se oorverhalings vir die res van die oorsigtydperk tot 1 April volgehou word, werk dit uit op ’n gemiddelde oorverhaling vir die tydperk van R1,32 vir petrol en R1,39 vir diesel. As die verhoogde brandstofheffings van 25c per liter wat in Februarie se begroting aangekondig is daarvan afgetrek word, dui dit steeds op ’n stewige verlaging van meer as R1 per liter vir sowel petrol as diesel.

Die laer brandstofprys sal ’n groot verligting vir verbruikers en kleinhandelaars wees en sal help om inflasie in bedwang te hou, sê Annabel Bishop, ekonoom van Investec.

Maar dit is net as die markfaktore vir die res van die maand stabiel bly. Oliepryse het reeds Dinsdag met tussen 8% en 9% herstel ná Maandag se skerp val. Internasionale brandstofpryse het minder skerp herstel. Petrolpryse op die New Yorkse handelsbeurs was Dinsdag 6% sterker, en diesel sowat 5% sterker.

Suid-Afrika se brandstofpryse word gegrond op pryse by raffinaderye in Singapoer, die Midde-Ooste en aan die Middellandse See. Dinsdag se herstel in pryse sal weerspieël word in die oor- of onderverhalingsyfers wat die SEF Woensdagoggend sal uitreik.

Bishop waarsku die laer oliepryse knou olieprodusente. Sommige maak eers ’n wins as die olieprys bo $50 per vat is, en olieproduserende lande gaan begrotingstekorte ervaar as die prys lank laag bly.

As die invloed van die koronavirus op die wêreldekonomie vererger, kan dit tot ’n resessie lei en die vraag na olie verder demp, wat oliepryse nog verder sal laat val, sê Bishop.

Die batebestuursgroep Schroders sê as oliepryse vir die res van die jaar rondom $35 per vat bly, sal dit oliemaatskappye se kontantvloei met tussen 50% en 60% sny.

Die huidige oliepryse is volgens Mark Lacey, hoof van kommoditeite by Schroders, reeds ver onder die winsdrempelvlak vir al die lidlande van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande. Oliemaatskappye sal nie dividende kan betaal met sulke olieprysvlakke nie, en niks in die oliebedryf kan teen $30 per vat werk nie, sê Lacey. Hy verwag oliemaatskappye sal oor die volgende paar maande groot voorraadvlakke opbou omdat die vraag laag gaan bly. Maar sodra die invloed van die koronavirus gekwyn het, sal nywerheidsbedrywighede hervat en sal die vraag na olie toeneem, wat oliepryse op medium- tot lang termyn weer sal laat klim.

Meer oor:  Sentrale Energiefonds  |  Petrolprys  |  Brandstofprys  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.