Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Augustus se petrolskok selfs groter as verwag

Petrol word op Woensdag 4 Augustus ’n aardige 91c per liter duurder, terwyl die prys van diesel met tot 56c per liter opskiet.

Dis méér as die styging wat teen Vrydag voorspel is omdat die Sentrale Energiefonds ’n balansfondsheffing van 6,58c per liter bygevoeg het.

Dié heffing kom omdat die balansfonds weens opeenvolgende maande van stygende brandstofpryse nou al R535,1 miljoen in die rooi is.

Die balansfonds is die geld waaruit brandstofmaatskappye vergoed word as die brandstof wat hulle invoer, deur die loop van die maand duurder word nadat die brandstofpryse vir daardie maand vasgestel is.

Die balansfondsheffing sal geld totdat die fonds minder as R250 miljoen in die rooi is, wat ’n paar maande kan duur, veral indien die olieprys aanhou styg en die rand aanhou verswak.

Die finale stygings sien as volg daar uit:

  • Petrol, alle grade: Styg met 91c per liter;
  • Diesel met 0,05% swael: Styg met 56c per liter;
  • Diesel met 0,005% swael: Styg met 55c per liter; 
  • Paraffien: Styg met 67c per liter; en
  • Gas: Styg met R2,26 per kilogram. 

Die grootste rede vir die styging is stygende brandstofpryse in dollar op oorsese markte, maar die rand wat teen die dollar verswak het, dra tussen 31c en 35c per liter tot die stygings by. Die rand was in die oorsigtyd gemiddeld R14,54 teenoor die dollar, terwyl dit in die vorige oorsigmaand R13,92 was.

Die styging van 91c per liter bring petrol vir die eerste keer nóg op meer as R18 per liter, R18,30 om presies te wees, in Gauteng te staan.

Aan die kus sal petrol vir die eerste keer meer as R17 per liter kos, naamlik R17,58.

Dit is die tweede maand in ’n ry dat petrol ’n rekordhoogtepunt haal en dit is ook die grootste styging sedert April.

Dis die sesde keer vanjaar dat petrol duurder word en die sewende keer dat diesel se prys opgaan.

Die stygings beteken vir 2021 sal 95-petrol in Gauteng teen 4 Augustus reeds R3,84 per liter duurder geword het, terwyl die prys van diesel met 0,05% swael met R3,19 per liter gestyg het.

Die hoogste styging nóg vanjaar was in April, toe Gautengse petrol R1 per liter duurder geword en diesel met 65c per liter gestyg het.

Diesel (0,05% swael) sal Woensdag R15,64 per liter in Gauteng kos en R15,03 per liter aan die kus. Dit is die groothandelprys aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.

Diesel is nie op rekordhoogtepunte nie, maar sal wel in Augustus baie na aan die rekord kom. Dié rekord was in November 2018 R16,13 per liter in Gauteng en R15,64 aan die kus.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.