Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol: ‘Skrap heffings vir ware stimulus’

Die DA en IVP het albei gister hul oproep herhaal dat die ANC-regering die algemene brandstofheffing en Padongelukkefondsheffing van altesame R5,30 per liter opskort of verminder om verbruikers ’n blaaskans te gee.

Lees ook: Petrolprys: Hier is die finale stygings vir Oktober

Paul Makube, landbou-ekonoom van FNB.

Dit kom nadat die Sentrale Energiefonds aangekondig het 95-oktaan-petrol word môre R1 per liter duurder, diesel van alle grade met R1,24 per liter, paraffien met R1,39 per liter en gas met R1,79 per kilogram.

Die styging – die hoogste in drie en ’n half jaar – beteken dat 95-oktaan-petrol in die binneland nou meer as R17 per liter kos. Die petrolprys is reeds die afgelope paar maand op algehele rekordvlakke.

Die styging om middernag is egter nie die laaste pyn by die pomp vir verbruikers nie. Hoewel die rand die afgelope week tot naby R14 per dollar versterk het, het die olieprys pas tot sy nuutste hoogste vlak in vier jaar gehaal. Brent-ruolie het gister in New York tot $83,65 per vat gestyg.

Die agtereenvolgende onderverhalings op die brandstofpryse gaan ook binnekort – waarskynlik in November – die Slate-heffingstrustfonds tot minder laat val as die -R250 miljoen wat dit mag wees voordat ’n Slate-heffing op die brandstofprys ingestel moet word.

Brandstofinvoerders eis die verskil tussen wat hulle op internasionale markte vir brandstof betaal en die prys wat hulle verdien in die maand nadat die regering die brandstofpryse vasgestel het.

Die Slate-fonds is ’n gevoelige knou toegedien toe Jeff Radebe, minister van energie, in September aangekondig het die volle onderverhaling op die brandstofprys word nié aan verbruikers deurgegee nie.

Dit het beteken brandstoffirmas het tydelik die styging in brandstofpryse self geabsorbeer, maar hulle moet nou terugbetaal word vir September se onderverhaling. Die waarde van die “subsidie” beloop nagenoeg R500 miljoen.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, sê die brandstofprysstygings gaan bykomende druk op verbruikers plaas. Huishoudelike besteding – wat nagenoeg tweederdes van die land se bruto binnelandse produk verteenwoordig – het reeds in die tweede kwartaal met 1,3% geval, en besteding aan duursame goedere met 11,2%.

Ons gaan ’n donker feestyd binne as die huidige pas van brandstofpryse oor die volgende twee maande volgehou word.
Paul Makube van FNB

“Klein ondernemings en armer huishoudings sal die ergste getref word omdat vervoerkoste ’n groot porsie van huishoudelike besteding verteenwoordig. Volgehoue stygings in die brandstofpryse sal besteebare inkomste verder wegkalwe en finansiële stres veroorsaak.”

Makube sê die druk sal ’n verandering in bestedingspatrone meebring; kleinhandelaars wat luukse items verkoop en restaurante sal die swaarste getref word.

“Ons gaan ’n donker feestyd binne as die huidige pas van brandstofpryse oor die volgende twee maande volgehou word.”

Makube sê die brandstofpryse gaan ook druk op boere plaas op ’n tydstip dat die plantseisoen vir somergraangewasse begin. Duurder olie maak kunsmis en plaagdoders ook duurder.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, sê dis ’n klug dat pres. Cyril Ramaphosa ’n stimuluspakket bekend stel wat “die las van stygende brandstofpryse op die gemiddelde Suid-Afrikaner ignoreer”.

Hy sê die heffings op brandstof moet opgeskort word “totdat die regering tekens van positiewe groei toon en die ‘stimuluspakket’ positiewe gevolge oplewer.”

Solly Malatsi, DA-LP, sê die styging is ’n “mosie van wantroue in die ANC en sy vermoë om ons ekonomie te laat herleef”.

Malatsi sê oor die afgelope tien jaar het die algemene brandstofheffing byna verdubbel en die POF-heffing het meer as verdriedubbel.

“Ons regering laat die mense van die land vir sy korrupsie en wanbestuur van die ekonomie en staatsgeld betaal.”

Die DA stel voor dat die heffing op kort termyn met minstens R1 verminder word. “Dis moontlik om enige tekort wat dit skep, met sinvolle fiskale hervorming te finansier. Besnoei die opgeblase kabinet en hervorm staatsondernemings en slaan met erns toe op staatskorrupsie, dan sal dit moontlik wees om die brandstofheffing te verminder.”

Meer oor:  Jeff Radebe  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel  |  Sentrale Energiefonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.