Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petroleumwet hét al welvaartfonds genoem – Gwede

Die soewereine welvaartfonds wat die regering wil oprig, is inderdaad toe nie iets nuuts nie, want ’n enkele weggesteekte opmerking daaroor is wel ingesluit in die konsepwetsontwerp oor die ontwikkeling van stroomop petroleumhulpbronne.

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie.

Dié wetsontwerp is die dag voor Kersfees verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer, en openbare kommentaar daaroor sluit Vrydag (21 Februarie).

Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, het joernaliste Donderdag aangemoedig om die wetsontwerp te gaan lees, want dit skryf reeds voor dat olie- en gasprodusente hiervolgens ’n petroleumhulpbronbelasting aan die soewereine welvaartfonds moet betaal as deel van hul verpligtinge as die houer van ’n produksiereg.

Dit was nadat Mantashe Woensdag in die debat oor die staatsrede gesê het mynboumaatskappye se tantième aan die regering kan gebruik word as finansiering vir die soewereine welvaartfonds – wat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het.

Volgens Mantashe hoef myne nie bykomend belas te word nie. Hul tantième aan die staat kan bloot omhein word en na die soewereine welvaartfonds gaan, pleks van om bloot in die algemene staatskas gestort te word.

Op die vraag of die regering dit hoegenaamd kan bekostig om geld opsy te sit vir so ’n fonds te midde van ’n enorme begrotingstekort, het Mantashe aangevoer dit is onwys om bloot op te hou om iets te doen as daar ’n krisis elders is.

Hy het wel bevestig dit sal die nasionale tesourie se taak wees om die fonds te stig, en bydraes tot die fonds sal deur die tesourie se geldwette gereguleer moet word. Hy wou bloot die opsie op die tafel plaas dat mynbou se tantième ’n maklike en vinnige manier kan wees om so ’n fonds op die been te bring.

Toe hy gevra is of maatskappye wat aardgas ontgin, ook tot die fonds sal moet bydra, het hy verwys na die wetsontwerp op petroleumontwikkeling wat reeds vir ’n soewereine welvaartfonds voorsiening maak.

Staatsmededinger vir Eskom op pad

Mantashe het bevestig dat die skepping van ’n nuwe kragopwekkingsmaatskappy in staatsbesit, naas Eskom, ’n werklike idee is. “Ons sal dit laat gebeur, maar kan nie nou al die fynere besonderhede bekend maak nie,” het hy gesê na aanleiding van sy opmerkings daaroor vroeër in Februarie tydens die Mynbou-indaba.

Gwede Mantashe het bevestig dat die skepping van ’n nuwe kragopwekkingsmaatskappy in staatsbesit, naas Eskom, ’n werklike idee is. Foto: Bloomberg

Volgens Mantashe is dit die idee van die departement van openbare ondernemings onder wie se toesig Eskom val om Eskom se kragopwekkingsafdeling mettertyd te verdeel in byvoorbeeld drie stelle kragstasies wat teen mekaar meeding.

Transmissienetwerk sal in staatsbesit bly

Anders as die DA wat in sy privateledewetsontwerp oor ’n onafhanklike kragnetwerk voorbrand maak vir ’n geprivatiseerde transmissienetwerk, sê Mantashe die regering sal Eskom se transmissienetwerk in staatsbesit hou. Volgens hom is die regering se eie wetsontwerp oor ’n onafhanklike kragnetwerk – die sogenaamde Ismo-wetsontwerp – in 2013 gestaak omdat hy sy tyd vooruit was. Die mark was nog nie daar nie, maar die wetgewingsproses hieroor sal hervat word as die tyd ryp is.

Mantashe meen die DA se voorstel vir ’n private kragnetwerk is doodgebore. “Ek het na die Chinese model gekyk – die transmissie word deur die staat besit, maar die kragopwekking en verspreiding is geliberaliseer sodat dit kan uitbrei.”

Hernubare energie

Mantashe het sy skynbare traagheid met die kontraktering van nuwe groenkragprojekte verduidelik en verdedig deur te sê daar is sterk voorbrandmakers vir groenkrag, maar hulle besef nie “as jy vinniger hardloop as wat jy kan nie, kan jy op jou gesig val”.

“Die voorbrandmakers vir groenkrag wou hê ons moet die bodronde 5 van die groenkragprogram nou al oopmaak onder die ou regulasies, maar ons het geweier.”

Mantashe het verwys na die prys van R4,25 waarteen Eskom tans sonkrag van aanlegte in die bodronde 1 van die program moet aankoop, maar dit dan teen R1,25 aan kliënte moet verkoop, terwyl die aankoopprys boonop elke jaar met die inflasiekoers verhoog word. Dit maak nie sin nie, so die debat is geopen met die produsente van bodrondes 1 tot 3.

Die prys vir sonkrag van bodrondes 2 en 3 is onderskeidelik R2,94 en R1,75, wat volgens hom steeds duur is.

Die minister meen die groenkragprogram is swak saamgestel en behoort aangepas te word.

Hy sê dit is ’n wanvoorstelling om te beweer die oopmaak van bodronde 5 sal beurtkrag eensklaps laat verdwyn. Die 2 200 MW se aanlegte van bodronde 4 wat Jeff Radebe, vorige minister van energie, verlede jaar geopen het, is nog nie eens klaar gebou nie.

“Dis nie kitskoffie nie, dis ’n langtermynplan,” het Mantashe gesê in reaksie op kritiek dat hy sloer met die proses om nuwe kragopwekking te kontrakteer te midde van beurtkrag en die Eskom-krisis.

Sy departement werk deur die 481 voorstelle vir noodkrag wat binne die volgende 12 tot 36 maande op die been kan kom, en uit die aansoeke by die Nasionale Energiereguleerder vir kragopwekking vir eie gebruik, is 75 van 132 aansoeke al goedgekeur. Die departement help boonop die oorblywende aansoekers met die afhandeling van hul aansoeke, omdat daar inligting was wat ontbreek het.

Munisipaliteite

Oor die besluit om munisipaliteite wat finansieel gesond is toe te laat om krag regstreeks van onafhanklike kragprodusente te koop te midde van die Kaapstad-metro se hofsaak daaroor, het Mantashe gesê die regering sal nie spring bloot omdat die metro hof toe hardloop nie.

Die regering werk aan regulasies daaroor, nie net vir Kaapstad nie, maar vir die hele sektor. Dit is nie ’n nuwe kwessie nie, want Kaapstad, Johannesburg en Bloemfontein het in die verlede hul eie kragstasies gehad.

“Laat ons daardie ruimte heropen vir bekwame munisipaliteite om daardie roete te kan volg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.