Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: 2021 begin nie met goeie nuus nie

Dis dalk nie iets wat jy net voor Kersfees met al sy bykomende uitgawes wil hoor nie, maar die petrolprys gaan in Januarie skerp styg en die dieselprys selfs skerper.

Die olieprys het die afgelope maand met 18,5% gestyg en dis baie slegte nuus vir plaaslike motoriste.

Volgens die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds is daar ’n onderverhaling van byna 30c per liter op 95-oktaan-petrol en van 33c op 93-oktaan.

Vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% is daar ’n onderverhaling van 52c per liter en vir 0,005% 51c.

’n Onderverhaling is met hoeveel die pryse sou moes styg as dit vandag vasgestel word. Daar is nog twee weke waarin sake kan verbeter – of verswak.

Die syfers word daagliks bygewerk. Die laaste dag van die oorsigmaand vir Januarie se brandstofpryse is 31 Desember.

Die nuwe pryse sal van 6 Januarie af geld.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) waarsku as huidige tendense voortduur, gaan Januarie se stygings in brandstofpryse selfs groter wees.

“Dit was tot dusver ’n goeie maand vir die rand, maar die basiese brandstofprys het opgeskiet sedert begin Desember, wat die skrikbeeld oproep van nogal groot stygings as daar nie voor die einde van die maand ’n remskoen is nie.”

Die rede vir die skerp stygings is uitsluitlik die styging van brandstof op internasionale markte die afgelope maand. Dit is op sy beurt omdat olie duurder word.

Brent-ruolie, die basis van Suid-Afrikaanse petrol, het die afgelope 30 dae 18,5% duurder geword – van $42,70 per vat op 13 November tot nagenoeg $50,60 tans.

Duurder brandstof is verantwoordelik vir 45c of 49c per liter van die huidige onderverhaling op onderskeidelik 95- en 93-oktaan-petrol, en vir 67c per liter op diesel (albei grade).

Die stygings is teengewerk deur die sterker rand, wat die afgelope weke vir die eerste keer in byna nege maande tot onder R15 per dollar versterk het. Enige verswakking in die rand oor die volgende paar weke, hoe gering ook al, sal ’n groter styging in brandstofpryse veroorsaak.

Die styging kom ondanks ’n ooraanbod van olie op wêreldmarkte, maar die AA sê daar is optimisme dat die wêreldekonomie vinniger sal groei danksy die uitrol van entstowwe teen die virus wat Covid-19 veroorsaak.

Die verwagte skerp styging in Januarie kom ná wat eintlik ’n goeie jaar vir motoriste was – nie net het brandstof aansienlik ’n paar rand goedkoper geword nie, baie mense het ook (meer gereeld) van die huis af gewerk en minder rondgery.

In 2020 was daar agt maande waarin petrol goedkoper geword het. Die prys van 95-oktaan-petrol in Gauteng het R1,84 per liter goedkoper geword en R1,90 aan die kus. Dit kos nou onderskeidelik R14,46 en R13,76 per liter.

Diesel het sewe maande goedkoper geword, met altesame R2,08 per liter goedkoper in Gauteng en R2,14 aan die kus. Dit kos nou onderskeidelik R12,45 en R11,85 per liter.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.