Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: April-skok groter ná aanval in Saoedi

Die skerp styging in oliepryse Maandagoggend voorspel niks goeds vir Suid-Afrika se brandstofprys in April nie.

Die petrolprys gaan in April vir die vierde keer vanjaar styg. Foto: Pixabay

Oliepryse het die oggend al met byna 3% opgeskiet, met Brent-ruoliepryse in Londen wat so hoog as $71,37 per vat verhandel. Dis ná ’n missiel- en hommeltuigaanval Sondag in Saoedi-Arabië by Ras Tanura, die grootste olieuitvoerpunt in die wêreld, asook by ’n woongebied vir oliewerkers.

Amerikaanse ruoliepryse het tot $67,36 per vat gestyg.

Maar nog voor dié voorval was daar voor die naweek reeds ’n groot onderverhaling van 88c per liter op petrol en 74c per liter op diesel in die Suid-Afrikaanse mark. Dié syfers van die departement van minerale hulpbronne en energie beteken die heersende markprys van petrol is dus soveel as 88c per liter meer as wat motoriste daarvoor betaal. Dit impliseer dat petrolpryse met soveel verhoog sal moet word as pryse weer in April aangepas word.

Daar is ook die styging van altesame 27c per liter in brandstofheffings om in gedagte te hou, soos Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede aangekondig het. Dit is 15c meer vir die algemene brandstofheffing, 11c vir die Padongelukkefondsheffing en 1c vir die koolstofbelasting.

As die jongste skerp styging in oliepryse deurwerk na internasionale produkpryse en die belastingverhogings daarby getel word, kan April ’n skok van ver meer as R1 per liter op brandstofpryse vir verbruikers beteken, wat druk sal plaas op inflasie en alle verbruikersgoedere wat per pad vervoer moet word, duurder sal maak.

Die gemiddelde onderverhaling van 26 Februarie tot 5 Maart op die petrolprys is 85c per liter, en op diesel is dit 65c. Die volgende prysaanpassing sal op 7 April in werking tree.

Volgens die regering in Saoedi-Arabië is die Hoeti-rebelle verantwoordelik vir die aanvalle Sondag. Hoewel dit nie lyk asof enige olieverskaffing geraak is nie, het oliepryse volgens Bloomberg wel vir die eerste keer sedert Januarie verlede jaar tot bo $70 per vat opgeskiet. Dit is die ernstigste aanval op Saoedi-Arabiese olie-infrastruktuur sedert September 2019 toe twee olievelde asook ’n belangrike verwerkingsaanleg beskadig is en olieproduksie vir sowat ’n maand ontwrig het.

Die Ras Tanura-uitvoerpunt aan die Persiese Golf is deur hommeltuie uit die rigting van die see aangeval. Die aanval deur ’n missiel was by ’n woongebied van werkers van die nasionale oliemaatskappy Saudi Aramco in Daran suid van Ras Tanura. Dit was net skrapnel van die missiel wat naby die woongebied geval het, en niemand is beseer nie. Dit blyk die aanvalle kon betyds onderskep word en geen infrastruktuur is beskadig nie.

Ras Tanura kan 6,5 miljoen vate olie per dag uitvoer en word normaalweg goed beskerm. Dit bestaan uit ’n hawe vir olietenkskepe, ’n groot olietenkplaas asook Saudi Aramco se oudste en grootste raffinadery. Bloomberg berig die Hoeti-rebelle beweer hulle het 14 hommeltuie met bomme en 8 ballistiese missiele in die aanvalle gebruik.

Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.