Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys ‘bring dalk SA se Arabiese lente’
Brandstof gaan in Oktober met die meeste in byna vier jaar styg. Foto: Getty Images

Oktober gaan dalk Suid-Afrika se Arabiese lente – ’n tyd van ongekende betogings – word.

Dis die mening van Samie Campher, een van honderde Netwerk24-lesers wat kommentaar gelewer het op die nuus dat brandstof in Oktober met die meeste in byna vier jaar gaan styg.

Theuns Els stel dit só: “Hier kom groot bollie. As die prys so baie gaan styg, sal al wat leef en beef in opstand kom en betoog, afbrand, afbreek en steel.”

Anna Cronje sê: “Dit gaan nie die mooiste, mooiste maand wees nie.”

Talle lesers het die verwagte stygings van ver meer as R1 per liter voor die deur van die ANC-regering gelê. Pres. Cyril Ramaphosa het dit ook ontgeld.

CJ Jacobs sê: “Wat gaan so ’n enorme verhoging aan kospryse doen? Die belastingbetaler is absoluut vuisvoos en hierdie korrupte ANC-regering hou net aan met vat, vat, vat. Ek is siek en sat vir hierdie korrupte regering.”

Fanie Brink, ’n landbou-ekonoom, sê Suid-Afrikaners moet hulle maar klaarmaak vir nog baie groot skokke, “wat sal beteken dat die ANC sy gat heeltemal sien en die ekonomie finaal verpletter word, want hulle klou mos vas aan sosialisme/kommunisme en verder verstaan hulle niks (amper gebruik ek ’n ander woord!).”

Lo Ma vra: “Waar is daai klomp narre nou wat sê ons sal nooit Zimbabwe nr. 2 wees nie?”

Ene EJ sê armes moet oorreed word om nie weer vir die ANC te stem nie, maar hierop antwoord verskeie mense dat armes dan vir die EFF sal stem, wat radikale nasionalisering en selfs groter probleme vir die ekonomie kan meebring.

’n Leser met die gebruiksnaam Pieter L verwag dat petrol voor die einde van die jaar R20 per liter gaan beloop: “Dinge in die land gaan nog baie, baie slegter raak . . .”

Pieter Bosman reageer egter: “Dit kan en dit hoef nie so te wees nie. Die ANC het die mag en die krag om iets daaraan te doen, maar hulle moet eers ophou om op eiers te loop wanneer dit kom by die superrykes.

“Min ander lande laat jou toe om skuld by die belastinggaarder van R3,7 miljard op te loop, terwyl die oog van die Steinhoff-storm tussen die walvisse baljaar in Hermanus en ’n gek van parlementêre oorsig maak. Hulle gaan nêrens heen nie, hulle bly te lekker hier.

Vir hierdie pyn is daar nie salf te smeer of pleisters nie. Ongelukkig . . .
JJ Palvie

“Hoër inkomstebelasting en welvaartsbelasting is ’n dom idee, maar progressiewe belasting op toegevoegde waarde op goedere en dienste sal gou die ongelykheid in die land regtrek. Laat dié wat dit kan bekostig, R30 vir ’n brood by Woolworths betaal. Dié wat nie kan nie, sal een vir R8 by Shoprite koop, en die res sal gou hul voete tussen-in vind.”

Die R3,7 miljard is ’n verwysing na die belastinginkomste wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na bewering verloor het toe die maatskappy Energy Africa aan Christo Wiese se Titan-beleggingsbeheerfirma verkoop is. Die SAID is in ’n hofstryd met Wiese en drie ander verweerders gewikkel waardeur die SAID hoop om R216,6 miljoen te verhaal weens die manier waarop die verkoop van Energy Africa gestruktureer is. Wiese ontken dat hy enige geld aan die SAID verskuldig is.

Vincent Farrell haal ’n teer punt op: “As Tina Joemat-Pettersson (voormalige minister van energie) nou net nie daai 10 miljoen vate van ons oliereserwes in 2015 teen $28 per vat verkoop het (toe die prys $40 per vat was) nie. Dit kon ons vir ’n maand of twee gedra het.”

John John sê die stygende brandstofpryse “sink maatskappye”.

Marius le Roux doen die somme: “Volgens die AA is die prys vir 93-oktaan tans R15,86. As jy ’n gemiddelde 55 liter-tenk het, sal jy R872,30 betaal om vol te maak. Met die verhoging sal dieselfde tenk jou nou R933,90 kos. Sowat R62 meer. Dit is amper die prys van twee pakkies sigarette of ’n bottel wyn. So wat is die oplossing? Rook en drink minder . . . Ek glo nie so nie, want die pryse dryf mense tot drank en rook. Daar is dus nie ’n oplossing nie!”

Johann Fouche sê: “Eina . . . is daar dalk ’n pleister iewers?” waarop JJ Palvie antwoord: “Vir hierdie pyn is daar nie salf te smeer of pleisters nie. Ongelukkig . . .”

Enkele lesers het darem nog die ligter kant van die saak ingesien.

Ulrica de Beer het op Facebook geskryf: “Ek verkoop donkiekarre – jy kry ook ’n paar bale voer saam. Inbox my as jy belangstel.”

Danie Jacobs antwoord: “Al stoot ons die kar bottelstoor toe, maar drink sal daar gedrink word!”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Betogings  |  Petrolprys  |  Brandstofprys  |  Arabiese Lente  |  Petrol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.