Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys daal dalk sowaar in Junie!

Selfs met ’n koolstof-kinkel in die kabel is daar goeie nuus vir motoriste – mits hulle petrol- eerder as dieselvoertuie ry.

Die finale oorverhaling op petrol vir die tydperk wat Junie se brandstofpryse bepaal, is 14c per liter op 95-oktaan-petrol en 16c per liter op 93-oktaan afgerond.

Petrol gaan in Junie effens goedkoper word, maar diesel duurder.

’n Oorverhaling is met hoeveel die petrolprys moet daal en word deur die daaglikse skommelinge in die rand-dollar-wisselkoers en die internasionale prys van brandstof bepaal, wat op sy beurt van die ruoliepryse afhang.

In Junie word die koolstofbelasting op brandstof egter van krag. Dit beloop 7c per liter op die petrolprys en 8c per liter op die dieselprys. Die nasionale tesourie het Vrydag laat weet die koolstofbelasting sou aanvanklik onderskeidelik 9c en 10c per liter vir petrol en diesel beloop, maar 'n tegniese aanpassing is gemaak om dié belasting met 2c te verlaag en die algemene brandstofheffing weer met 2c te verhoog.

Die petrolprys gaan dus wel daal, maar na verwagting met net 5c of 7c per liter, na gelang van graad.

Dit sal die eerste daling in vyf maande wees. Dit gaan egter nie veel verligting vir motoriste bring nie: ’n Hele tenk van 45 liter petrol word maar tussen R2,25 en R3,15, na gelang van of hulle 95- of 93-oktaan-petrol gebruik.

Wat diesel betref, lyk die prentjie maar donker. Die finale onderverhaling op die groothandelprys van diesel wissel van ’n afgeronde 9c tot 10c per liter na gelang van swaelvlak. By dié styging moet boonop die 10c per liter koolstofbelasting gevoeg word.

Dit beteken diesel gaan na verwagting met tussen 19c en 20c per liter duurder word.

Dit is dus tussen R8,55 en R9 duurder per tenk van 45 liter.

Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie en die prys kan van vulstasie tot vulstasie wissel.

Paraffie gaan met nagenoeg 8c per liter styg.

Die rede vir die oorverhaling op brandstof is ’n skerp daling in internasionale brandstofpryse die afgelope maand. Die oliekartel van nagenoeg 24 lande, waaronder groot produsente soos Saoedi-Arabië en Rusland, besnoei sedert Januarie hul produksie om die prys te probeer opdruk, maar dit werk klaarblyklik nié. Brent-ruolie het byvoorbeeld die afgelope maand van $72,80 per vat tot net $65,86 per vat gedaal – die laagste vlak oornag.

Internasionale brandstofpryse sou kon meebring dat petrol tussen 19c en 21c per liter goedkoper geword het (’n oorverhaling van 28c of 30c minus 9c per liter koolstofbelasting), maar die swak rand van die afgelope maand het sy tol geëis.

Die rand het die afgelope week baie na aan R15 per dollar gedraai. Dit het die afgelope maand van R14,30 per dollar tot R14,85 Vrydagoggend vroeg gewissel.

Die departement van energie of die Sentrale Energiefonds kan enige tyd vanaf Vrydag die finale pryse aankondig, maar doen dit deesdae gewoonlik eers Maandag. Die verwagte daling is mits die ander heffings en winsgrense nie aangepas word nie. 

Die nuwe pryse word op Woensdag 5 Junie van krag.

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Sentrale Energiefonds  |  Rand  |  Koolstoftaks  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Dollar  |  Koolstofbelasting  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.