Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: AA voorspel pyn vir motoriste

Motoriste kan maar so stadigaan voorberei op slegte nuus in September.

petrol, spaar, spaarwenke
September se petrolprys gaan jou waarskynlik nog meer platsak maak. Grafika: iStock

In dié stadium – met net meer as twee weke oor voordat brandstofpryse vasgestel word – lyk dit asof sowel petrol as diesel duurder gaan word.

Die daaglikse onder- en oorverhalings wat die departement van energie uitreik, wys dat Augustus se 11c-daling in die prys van 95-oktaan-petrol uitgewis kan word. Daar was teen Donderdagoggend ’n onderverhaling van 10c per liter op dié brandstof (afgerond). Daar is ook ’n onderverhaling van tussen 15c en 16c per liter op die groothandelprys van diesel.

Die onderverhaling is met hoeveel pryse sou moes styg indien dit vandag vasgestel word. Die onder- en oorverhalings word daagliks bygewerk tot 29 Augustus vir die pryse wat op Woensdag 4 September van krag word.

Die rede vir die onderverhaling is die skerp verswakking in die rand die afgelope twee weke. Die geldeenheid het dié week sy swakste vlak in 11 maande teenoor die dollar getref, naamlik R15,45. Sedert die begin van die oorsigmaand vir September se petrolprys het die rand met meer as 6% verswak.

As internasionale oliepryse onveranderd gebly het, sou die swakker rand op sy eie ’n onderverhaling van tussen 44c en 48c per liter in brandstofpryse meegebring het.

Die pyn word in dié stadium ’n bietjie versag deur laer internasionale oliepryse. Brent-ruolie het meer as 5% goedkoper geword die afgelope twee weke.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het Donderdag in ’n verklaring gesê hoewel internasionale oliepryse sedert die begin van Augustus skerp gedaal het, is daar nou weer tekens dat dit gaan styg.

Dis egter die skerp verswakking in die rand wat die AA bekommer: “Ons is bekommerd dat dit gaan vererger.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie is in ’n haglike toestand, met voortslepende beleidsonsekerheid en ’n stygende skuldlas. Die land is swak geplaas om sy plaaslike uitdagings te trotseer, wat nog te sê ontwikkelinge op internasionale front, en dit laat brandstofverbruikers al hoe meer blootgestel aan die randbewegings.”

Alle ontluikende lande se geldeenhede is op die oomblik onder druk weens vrese oor die wêreldekonomie. Wêreldgroei word deur die voortslepende handelsoorlog tussen die VSA en China gekniehalter.

Duitsland het pas negatiewe ekonomiese groei, van -0,1%, vir die tweede kwartaal aangekondig.

petrol
Die geskiedenis van petrolprysveranderings oor die afgelope jaar.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê die prys van Brent-ruolie het met 21% geval sedert die hoogste vlak vanjaar, $74,50 per vat, wat in April behaal is. Die prys beloop vanjaar gemiddeld $65 per vat, teenoor die 2018-gemiddelde van $71,80 per vat.

Sy verwag dat die gemiddelde prys vanjaar $65 sal wees, maar heelwat wisselvalligheid word ook verwag.

Die daling in die olieprys word onder meer aan die pap wêreldekonomie toegeskryf. Op sy beurt skryf Bishop dit toe aan die handelsoorlog tussen Amerika en China.

Sy verwag dat die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande sy produksieperke strenger sal maak indien die olieprys onder $60 per vat vasval.

Bishop sê die swakker rand gaan die uitwerking van die laer olieprys teenwerk. Sy verwag dat die onderverhaling oor die volgende weke gaan styg.

Benewens internasionale sentiment glo Bishop interne politiek in Suid-Afrika knou die rand. Dit sluit in kommer oor die onafhanklikheid van die Reserwebank en oor Eskom se skuld. Eskom gaan na verwagting teen einde September ’n plan met sy skuld bekend maak. Een van die opsies wat geopper word, is dat van Eskom se skuld deur die regering oorgeneem word. Eskom het R440 miljard se skuld.

Ander opsies is dat die Openbare Beleggingskorporasie sy Eskom-effekte vir aandele verruil, dat die staat nog kontant in Eskom pomp en dat ’n spesiale maatskappy geskep word net om Eskom se skuld te huisves.

Meer oor:  Investec  |  Opul  |  Annabel Bishop  |  Handelsoorlog  |  Vervoer  |  Wisselkoers  |  Olieprys  |  Petrolprys  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.