Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Goeie nuus met ’n korona-angel

As dit nie vir Covid-19 was nie, sou petrol volgende week 48c per liter goedkoper geword het en diesel 85c per liter.

Fuel consumption showing empty petrol tank. (Photo
Die petrolprys daal in Maart. Foto: Getty Images

Brandstof word wel in Maart goedkoper, maar Suid-Afrikaanse motoriste sal tevrede moet wees met sowat 19c per liter vir petrol en 55c per liter vir diesel, eerder as die veel hoër syfers wat sou gegeld het as dit nie vir die Covid-19-koronavirus was nie.

Die vrees oor die wêreldwye verspreiding van dié virus veroorsaak storms op wêreldmarkte wêreldwyd en veral die geldeenhede van ontluikende lande byt die spit af. Dit het ’n negatiewe uitwerking van 29c per liter op Suid-Afrikaanse brandstofpryse vir Maart.

Die rand het oornag sy swakste vlak in ’n jaar getref en vroegoggend verder verswak tot selfs R15,65 per dollar. Die afgelope maand het die rand met 7,3% verswak, volgens Wichard Cilliers, hoofvalutahandelaar van TreasuryOne.

Die oorsigtydperk vir Maart se brandstofpryse het op 31 Januarie begin en Donderdag ten einde geloop. Die Sentrale Energiefonds het nog nie die finale pryse bekend gemaak nie – dit word deesdae dikwels eers die Maandag of Dinsdag uitgereik voordat dit op die Woensdag van krag word.

Die rede waarom daar wel ’n daling in brandstofpryse kom, is die skerp daling in oliepryse die afgelope week, óók weens Covid-19.

Olie het dié week 12% goedkoper geword – die skerpste daling in meer as vier jaar, volgens Cilliers. Brent-ruolie is net-net meer as $50 per vat werd, wat die laagste in 14 maande sal wees.

Maart sal die derde maand in ’n ry wees dat die petrolprys daal. Die prys van 95-oktaan het in Januarie 14c per liter gedaal en in Februarie 13c per liter. ’n Daling van 19c per liter sal die totale verlaging in 2020 al op 46c te staan bring, wat petrol weer naby die vlak sal bring van Julie 2019, toe petrol R15,81 in Gauteng en R15,17 aan die kus gekos het.

Dis slegs die tweede maandeliks daling in die groothandelprys van diesel, wat in Februarie net 5c per liter goedkoper geword het. Die totale daling van 51c per liter vir 2020 (ingesluit die styging van 9c in Januarie, die daling van 5c in Februarie en Maart se verwagte 55c) sal diesel naby die R14,59 in Gauteng en R14,05 aan die kus bring waar dit in September 2019 was. (Die verwysing is na groothandelpryse aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.)

Voordat motoriste begin jubel oor goedkoper brandstof, moet hulle onthou dat Jan Taks in April toeslaan. Die algemene brandstofheffing styg met 16c per liter en die Padongelukkefonds met 9c per liter, soos in die pas afgelope begrotingsoorsig aangekondig is. Dié totale 25c per liter moet by enige maandelikse onderverhaling getel word of van ’n oorverhaling afgetrek word.

Dus, as die rand en oliepryse stabiliseer, kan motoriste verwag om in April minstens 25c meer vir brandstof op te dok. As die rand verder gly en oliepryse styg, is ’n gróót styging motoriste se voorland.

Meer oor:  Ruolie  |  Koronavirus  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.