Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Grootste skok in byna 4 jaar lê voor

Die grootste petrolprysstyging in langer as drie en ’n half jaar lê in Oktober vir motoriste voor.

Skerp stygings in brandstofpryse is motoriste se voorland weens die swakker rand en duurder oliel

Die pyn by die pomp gaan aansienlik meer as R1 per liter beloop, tensy die rand oor die volgende week drasties versterk en die olieprys daal.

Brandstofpryse is reeds die afgelope paar maande op rekordvlakke, maar petrol gaan in Oktober vir die eerste keer ook duurder as R17 per liter wees.

Volgens die daaglikse syfers wat die Sentrale Energiefonds uitreik, was daar teen Dinsdagoggend ’n onderverhaling van R1,12 per liter op 95-oktaan-petrol, van R1,37 per liter op die groothandelprys van alle grade diesel en van R1,16 per liter op paraffien. ’n Onderverhaling beteken ’n styging.

Die oorsigtydperk vir brandstofpryse vir Oktober duur tot Donderdag 27 September en die nuwe pryse geld van 3 Oktober af.

Die verwagte styging kom nadat die regering pas vir die eerste keer sedert 1990 ingegryp het in die vasstelling van die brandstofprys om verbruikers ná vyf maande van skerp stygings ’n blaaskans te gee. Die onderverhaling van nagenoeg 28c per liter in die petrolprys en 32c per liter in die dieselprys is vir September afgeweer; petrol het wel met 5c per liter duurder geword, maar die groothandelprys van diesel is onveranderd gelaat. (Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.)

Jeff Radebe, minister van energie, het verlede week gesê die onderverhaling is tydelik deur brandstofmaatskappye soos Shell en Engen geabsorbeer en gaan die fiskus geen geld kos nie.

Volgens Radebe sal ’n geskatte R500 miljoen uit die regering se brandstofvereffeningsfonds, die Slate-heffingsrekening, die subsidie finansier. Die geld sal aan die einde van die maand aan energiemaatskappye betaal word.

Die Slate-heffingsrekening is geskep om brandstofkleinhandelaars te vergoed as daar ’n onderverhaling is van die brandstofprys nadat die brandstofprys vir die maand vasgestel is.

Ekonome skat daar is ongeveer R1 miljard in die fonds, maar om die rekening aan die gang te hou vir die toekoms, moet daar R500 miljoen oorbly, wat beteken dat die fonds einde September uitgeput sal wees, het Rapport Sondag berig.

Dit bly ’n ope vraag hoe die Sentrale Energiefonds die Slate-rekening weer gaan aanvul - die vrees bly bestaan dat motoriste of anders belastingbetalers in die algemeen uiteindelik tog maar daarvoor sal moet opdok.

Lees ook: Blinde geloof en ’n Superheld skyn redding te wees

Redes vir die verwagte groot stygings in Oktober

  • Die rand – wat bo R15 per dollar verhandel sedert die syfers vir ekonomiese groei op 4 September uitgereik is – is verantwoordelik vir tussen 65c en 69c per liter op die stygings. Op dié dag is bekend gemaak Suid-Afrika is nou in ’n tegniese resessie ná twee kwartale van negatiewe ekonomiese groei (-2,6% in die eerste en -0,7% in die tweede kwartaal) op ’n kwartaalgrondslag.
  • Die prys van ruolie het egter ook skerp gestyg die afgelope paar weke. Dit verhandel net onder $80 per vat (Dinsdag teen 10:00 op $77,91 per vat), terwyl dit in die vorige oorsigmaand grootliks tussen $70 en $75 per vat verhandel het.

Vorige styging van meer as R1

  • Die laaste keer dat petrol met meer as R1 per liter duurder geword het, was in April 2015, toe die prys met R1,62 gestyg het. Diesel het toe R1,23 per liter duurder geword.
  • Die grootste styging in pryse vanjaar was in Junie, toe petrol 82c per liter duurder geword het en diesel met tot 87c per liter. Paraffien het toe R1,09 per liter duurder geword en gas R1,38 per kilogram.
  • Tot dusver in 2018 is petrol tot R1,32 per liter duurder as in Desember 2017. Diesel is tot R1,45 per liter duurder, paraffien tot 88c per liter en gas tot R1,38 per kilogram.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.