Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Só kan petrol, diesel in September duurder word

95-oktaan-petrol gaan Woensdag met minstens 11c per liter duurder word, maar daar is ’n kans dat dit selfs meer gaan wees.

Die 11c (of 12c, na gelang van hoe die departement van energie besluit om af te rond) is die finale onderverhaling vir die oorsigmaand vir September se brandstofpryse. Die onderverhaling is gegrond op die wisselwerking van internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers.

Kleinhandelwinsgrense word gewoonlik in September verhoog om voorsiening te maak vir die jaarlikse verhogings van vulstasie-werknemers, maar ’n week gelede was loononderhandelinge nog nie afgehandel nie. Dit beteken daar is onsekerheid of verhogings in September van krag sal word.

Vir 93-oktaan is daar ’n oorverhaling (dus ’n potensiële daling) van meer as 1c, wat dalk tot 2c afgerond kan word.

Die groothandelprys van diesel gaan met tussen 26c en 27c per liter styg. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie en die stygings en dalings sal van vulstasie tot vulstasie wissel.

Die departement van energie kan vanaf Vrydag enige dag die finale brandstofpryse vir September aankondig. Dit word op Woensdag 4 September van krag.

Petrol in Gauteng kos tans R15,92 per liter vir 95-oktaan, dus sal September se verhoging die prys weer oor R16 per liter druk. Aan die kus kos 95-oktaan tans R15,28 per liter.

Die groothandelprys vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% is tans R14,33 in Gauteng en R13,79 aan die kus.

Die duurder brandstof kan aan ’n swakker rand-dollar-wisselkoers toegeskryf word. Die rand het van 2 Augustus op R14,78 verswak tot Woensdag se R15,33, hoewel dit op 19 Augustus die swakste vlak van R15,46 teen die dollar gehaal het.

Die effense daling in oliepryse oor die oorsigtydperk het gehelp dat die brandstofpryse nie nog skerper styg nie. Die prys van Brent-ruolie het van $61 per vat rondom 2 Augustus tot die huidige vlak van net onder $60 per vat gedaal, hoewel die prysgrafiek oor dié tyd maar baie wipplank gery het.

Sowat 56% van die pompprys van petrol in Gauteng bestaan uit belastings, heffings en winsmarges aan die groot- en kleinhandelaars. Net sowat 44% van die prys bestaan uit die basiese prys van petrol by die raffinadery se hek.

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.