Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Januarie bring goeie nuus

Dit gaan dalk ’n hêppie-hêppie Nuwejaar vir Suid-Afrikaanse motoriste wees, maar die rand kan die partytjie bederf.

Met net twee weke oor voordat brandstofpryse vir Januarie 2019 vasgestel word, is daar ’n oorverhaling van R1,19 per liter op die prys van 95-oktaan-petrol en van R1,43 per liter op die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,005%.

Die prys van ruolie bly daal wat dalk verdere dalings in die petrolprys kan meebring.

Die finale oorverhaling – dus potensiële daling – word eers op 28 Desember bepaal en die daling sal dan vanaf Woensdag 2 Januarie geld. Die oorverhaling het die afgelope paar dae met ’n paar sent per dag gekrimp – internasionale oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers gaan bepaal hoe die finale syfers lyk.

As pryse wel in Januarie daal, soos nou waarskynlik lyk, sal dit die tweede agtereenvolgende daling in brandstofpryse wees. Dit sal beteken dat petrol meer as R3 per liter goedkoper is as in Oktober en November (tussen dié twee maande het die petrolprys onveranderd gebly). Enige daling van meer as 82c per liter sal petrol goedkoper maak as in Januarie 2018.

Wat diesel betref, sal die verwagte Januarie-daling die prys van diesel (0,05% swael) net-net minder as R3 per liter goedkoper maak sedert November. Dis egter onwaarskynlik dat die daling diesel goedkoper sal maak as in Januarie 2018, tensy die oorverhaling tot meer as R1,93 per liter vergroot.

Verreweg die grootste rede vir die oorverhaling, tot 95%, is die daling in internasionale oliepryse. Brent-ruolie, wat gebruik word vir die vervaardiging van Suid-Afrikaanse petrol, het die afgelope maand gereeld onder $60 per vat gewoeker.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die rand kan die partytjie bederf aangesien die geldeenheid sedert 4 Desember merkbaar verswak het. “Ons sal die tendens fyn dophou vir die res van die maand.”

Die rand het van R13,70 in die eerste week van Desember tot byna R14,50 op 11 Desember verswak. Vrydagmiddag het dit teen 12:30 ’n laagtepunt van R14,40 gehaal.

Wat internasionale oliepryse én die rand betref, sê die AA “baie sal van politieke en ekonomiese stabiliteit in die res van Desember afhang, sowel plaaslik as oorsee”.

“Die plaaslike ekonomiese vooruitsig bly traag, terwyl internasionale handelsoorwegings en politieke onstabiliteit in olieproduserende streke kan saamspan om internasionale oliepryse weer op te druk.”

Bloomberg skryf die daling in oliepryse toe aan ’n oormaat voorraad op wêreldmarkte. Die VSA het lande van Iranse oliesanksies vrygestel en Amerika self produseer skalie-olie teen rekordvlakke.

Die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy bondgenoot Rusland gaan vanaf Januarie produksie met 1,2 miljoen vate per dag besnoei, wat dalk die prys weer sal opdruk. Dit kan die einde van dalings in die petrolprys beteken, tensy die rand vroeg in 2019 versterk.

Een faktor wat wel ’n bietjie verligting sal bring, is wanneer die balansheffing van 21,92c per liter opgehef word. Die Sentrale Energiefonds het dié heffing in November ingestel omdat die balansrekening waaruit hy brandstofmaatskappye vir tekorte moet vergoed, ’n negatiewe balans van R2,2 miljard opgebou het weens herhaaldelike stygings in brandstofpryse vanjaar.

Volgens Netwerk24 se rowwe berekeninge behoort die heffing nie langer as vyf maande, dus tot Maart, te geld nie.

Meer oor:  Automobiel Assosiasie  |  Aa  |  Opul  |  Nuwejaar  |  Diesel  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.