Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrol, diesel: Hier is die finale pryse vir April

Jy mag nie rondrits terwyl die land in ’n staat van inperking is nie, maar dit gaan jou darem vanaf Woensdag heelwat minder kos as jy ry om te gaan kos of medisyne koop.

Alle soorte brandstof daal landwyd, maar weens vervoerkoste wat aangepas word vir die binnelandse provinsies verskil die dalings. Dit beteken effektiewelik mense aan die kus gaan ’n paar sent (6c) voordeel trek. Hier is die lys:

  • 95-oktaan: Daal met R1,88 per liter in Gauteng en met R1,94 aan die kus
  • 93-oktaan: Daal met R1,76 per liter in Gauteng en met R1,82 aan die kus
  • Diesel met 0,05% swael: Daal met R1,34 in Gauteng en met R1,40 aan die kus
  • Diesel met 0,005% swael: Daal met R1,35 in Gauteng en met R1,41 aan die kus
  • Paraffien: Daal met R2,45 per liter
  • Gas: Daal met R3,78 per kilogram

Al die pryse is vir kleinhandel, met die uitsondering van diesel, wat die groothandelprys is. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Die dalings beteken ’n liter 95-oktaan kos vanaf Gekkedag R13,96 in Gauteng en R13,26 aan die kus. Diesel (0,05% swael) kos op groothandelvlak R12,70 per liter in Gauteng en R12,09 aan die kus.

Vulstasies is wel oop tydens die staat van inperking omdat hulle as noodsaaklike dienste beskou word.

Die syfers van die Sentrale Energiefonds wat Vrydagoggend uitgereik is, wys daar is ’n oorverhaling van R2,18 per liter op 95-oktaan-petrol, R2,05 op 93-oktaan, R1,64 op diesel met 0,05% swael en R1,66 op diesel met 0,005% swael.

Dié oorverhalings is egter voordat die jaarlikse verhogings in brandstofheffings, wat altyd in April van krag word, afgetrek is. Dit beloop vanjaar altesame 25c per liter – 16c vir die algemene brandstofheffing en 9c vir die Padongelukkefondsheffing.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) beskryf dit as die grootste dalings nóg. Dit sal die prys van brandstof bring op vlakke wat laat 2017 en vroeg 2018 gesien is.

“Dis jammer dat dié enorme dalings kom op ’n tyd dat private ryery hewig ingeperk is, maar ons herinner motoriste daaraan dat hulle steeds toegelaat word om hul motors vol te maak ingevolge die inperkingsregulasies,” luidens die AA se verklaring.

Vulstasies en die vervaardiging en vervoer van brandstof word as noodsaaklike dienste beskou.

Die AA sê die daling kan broodnodige verligting vir vervoermaatskappye bring en ’n deel van die ekonomiese skade wat die inperking veroorsaak, teenwerk.

“Ons hoop dat maatskappye die voordeel in dié moeilike tye aan verbruikers sal deurgee.” 

Die enigste rede vir die daling in brandstofpryse is die vryval in wêreldwye oliepryse. Die prys van Brent-ruolie het die afgelope week tot so min as $24,52 per vat getuimel. Dit word tans grootliks aan die Covid-19-pandemie toegeskryf, wat die wêreldwye vraag na brandstof skerp laat daal terwyl lande inperkingsmaatreëls toepas.

Die vryval in oliepryse word teengewerk deur die verswakkende rand. Die rand het die afgelope week by R17,90 teenoor die dollar gedraai, wat ook toegeskryf word aan die onsekerheid op wêreldmarkte weens die virussiekte.

April is die vierde maand in ’n ry wat die petrolprys daal en die derde wat die dieselprys daal.

  • Die AA gaan tydens die inperking ’n gratis batteryhulpdiens aan gesondheidswerkers lewer. Dokters en verpleërs wat met pap batterye gaan staan, kan 0861 000 234 bel.
  • Die AA versoek sy lede om die AA-app af te laai en vanaf die app hulp in te roep as hulle mediese, padbystands- of veiligheidsdienste benodig, eerder as om die oproepsentrum te skakel. Hoewel die AA ’n noodsaaklike diens lewer en mag oop bly, is dit ook onderhewig aan regulasies om die Covid-19-pandemie te beperk. Dit beteken hul werknemers word beperk.
Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.