Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Nóg ’n styging dreig, veral vir diesel
Diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% gaan waarskynlik met sowat 52c duurder word in Augustus. Foto: Getty Images

Met net ’n week oor voordat brandstofpryse vir Augustus bereken word, lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat petrol effens duurder gaan word. Mense met dieselvoertuie gaan egter heelwat meer opdok.

Danksy die sterker rand die afgelope week sal die prysstyging nie so groot wees soos in die middel van die maand verwag nie.

Die Sentrale Energiefonds (CEF) se jongste verslag dui op ’n onderverhaling vir die oorsigtydperk tot dusver.

Die gemiddelde onderverhaling, dus met hoeveel die prys sou moes styg as dit vandag vasgestel moes word, beloop tans net onder 15c per liter vir 95-oktaan-petrol en 18c vir 93-oktaan-petrol.

Vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,005% is die onderverhaling egter 52c. Dié onderverhaling is op die groothandelprys, aangesien die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word soos vir petrol nie.

Die oorsigtydperk loop tot Donderdag 30 Julie, waarna pryse op Woensdag 5 Augustus verander.

Die onderverhaling word tans negatief beïnvloed deur die stelselmatige herstel van internasionale oliepryse.

In Junie het Brent-ruolie met 26% duurder geword ná maande van onderdrukte pryse weens die laer vraag na brandstof in lande wat swaar getref word deur die Covid-19-pandemie.

In Julie het die prys van Brent-ruolie gemiddeld by sowat $43 gedobber. Teen Vrydagoggend was dié prys $43,65 – die hoogste in meer as vier maande.

Die CEF se data wys dat die prys van Brent-ruolie tans verantwoordelik is vir ’n onderverhaling van 23c op 95-oktaan-petrol, wat net deur die sterker rand laer gedruk word.

Die rand het in Julie sover al met byna 2% versterk teenoor die dollar en het Vrydag om 11:40 op R16,73 te staan gekom.

Te danke hieraan is die verbeterende wisselkoers op sy beurt verantwoordelik vir ’n oorverhaling op brandstof wat Augustus se verwagte prysstyging help in toom hou.

Intussen het die heersende dieseltekort ook in ’n mate verbeter.

“Dieselverskaffing het betreklik gestabiliseer, maar is nog nie heeltemal op vlakke waar ons dit wil hê nie,” het

dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die landbousakekamer Agbiz, aan Landbouweekblad gesê.

Boere kan dus verwag dat diesel in Augustus geredelik beskikbaar sal wees, maar teen beduidend hoër pryse.

Meer oor:  Olieprys  |  Petrolprys  |  Brandstof  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.