Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Oktober bring (baie) goeie nuus
Motoriste kan in Oktober ’n stewige daling in brandstofpryse verwag.

Die mooiste, mooiste maand gaan nie te hard op die sak wees vir mense wat terugkeer kantoor toe of dalk die skoolvakansie weggaan nie.

Motoriste kan in Oktober ’n stewige daling in brandstofpryse verwag, met diesel wat dalk net-net minder as ’n rand goedkoper gaan word.

Volgens die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds is daar Vrydag ’n oorverhaling van 35c op die prys van 95-oktaan-petrol en van 26c op 93-oktaan. Dit is op die prys wat motoriste by vulstasies opdok.

Daar is ’n oorverhaling van tussen 91c en 93c op die groothandelprys van diesel. Die kleinhandelprys van diesel word nie gereguleer nie.

Daar is ook ’n oorverhaling van 81c per liter op paraffien, wat baie Suid-Afrikaners gebruik in stofies en verwarmers.

Nog net ’n week bly oor voordat die brandstofpryse vir Oktober vasgestel moet word. Dit sal op die eerste Woensdag van die maand, 7 Oktober, van krag word.

Die twee faktore wat plaaslike brandstofpryse bepaal, werk op die oomblik saam om die prys af te druk.

Die eerste faktor is die rand-dollar-wisselkoers omdat brandstof in dollar ingevoer word. Die rand het die afgelope 30 dae – dus in die oorsigtydperk vir Oktober se brandstofpryse – byna konstant sterker as R17 per dollar en het selfs by R16,19 gedraai. Dis teenoor die vorige maand, toe dit in ’n stadium baie na aan R18 per dollar gekom het.

Die rand het wel die afgelope week weer met meer as 3% teenoor die dollar verswak, wat die oorverhaling op brandstofpryse kan verminder, maar dis onwaarskynlik dat dit die oorverhaling in die oorblywende week van die oorsigmaand sal kan uitwis. In dié stadium dra die sterker rand nagenoeg 19c per liter tot die oorverhaling by.

Die tweede faktor is die dollarprys van ’n mandjie brandstof op oorsese markte. Volgens die SEF dra dit 15c per liter toe die oorverhaling op 95-oktaan-petrol by en 7c per liter vir 93-oktaan-petrol. Vir diesel dra die goedkoper brandstofpryse oorsee tussen 73c en 75c per liter tot die oorverhaling by en vir paraffien 64c per liter.

Die Oktober-daling sal die sesde maand vanjaar wees wat die petrolprys daal (nie agtereenvolgens nie) en sal 95-oktaan-petrol vir die eerste keer in vier maande in Gauteng goedkoper as R15 per liter maak.

Die huidige prys van 95-oktaan is onderskeidelik R15,18 in Gauteng en R14,48 aan die kus.

Wat diesel betref, sal die Oktober-daling die sewende daling vanjaar wees. Dit sal die groothandelprys van diesel met 0,05% swael vir die eerste keer in vier maande in Gauteng goedkoper as R14 per liter maak en aan die kus goedkoper as R12 per liter.

Die huidige afgeronde groothandelprys van diesel met 0,05% swael is R13,28 per liter in Gauteng en R12,67 per liter aan die kus.

Brandstof kos duurder in die binneland omdat die koste van vervoer per pypleiding daarby ingereken word.

brandstof

Hoe (relatief) duur of goedkoop is brandstof nou?

Almal kla maklik oor die styging in die prys van als van melk en brood tot brandstof. Baie Suid-Afrikaners het egter vanjaar die goedkoopste brandstof in vier jaar beleef.

In Mei was die prys van 95-oktaan-petrol R12,22 in Gauteng en R11,52 aan die kus. Dit was die laagste prys in vier jaar, sedert begin 2017.

Die kusprys van diesel met 0,05% swael was op groothandelvlak ook in Mei die goedkoopste in vier jaar op R10,48 per liter. In Gauteng sal motoriste egter vier jaar terug in ’n tydkapsule moet spring vir die goedkoopste diesel – dit was in Julie 2017 R10,97 per liter.

Die duurste wat petrol nóg was, was in Oktober en November 2018, toe 95-oktaan R17,08 in Gauteng en R16,49 aan die kus gekos het.

Die duurste diesel is in November 2018 beleef, teen R16,13 per liter in Gauteng en R15,64 in die binneland.

Meer oor:  Olieprys  |  Olie  |  Petrolprys  |  Brandstofprys  |  Petrol  |  Brandstof  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.