Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Oliereuse vat dié pak

Dis die oliemaatskappye wat die pak vat vir die brandstofpryse wat vandeesmaand onveranderd bly.

Brandstoffirmas absorbeer die hoër olieprys in September. Foto: Bloomberg

Die departement van energie het die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging geraadpleeg voordat Jeff Radebe, minister van energie, aangekondig het dat brandstofpryse vir September nie sal styg nie, het Robert Maake, direkteur: brandstofpryse by die departement, in ’n telefoniese onderhoud gesê.

Dit is nou benewens die 4,9c per liter wat wel by die petrolprys gevoeg is om vir die verhoging in die lone van petroljoggies by vulstasies voorsiening te maak.

Die regering het aan die oliemaatskappye belowe dat hulle hul geld sal terugkry, dis net die tydsberekening daarvan wat nog nie duidelik is nie.

Maake wou nie bespiegel oor of die “subsidie” wat die oliebedryf aan motoriste gee (oor die volgende ses maande of oor watter tydperk ook al) aan hulle teruggegee gaan word nie.

Hy het beklemtoon dat die komitee van ministers wat in opdrag van pres. Cyril Ramaphosa aan nog planne moet dink om die las van hoër brandstofpryse te verlig, teen einde September hul verslag moet indien.

Volgens Maake het die departement van energie nie beheer oor die brandstofheffing en Padongelukkefondsheffing nie. Dit is heffings wat die nasionale tesourie beheer. Hy het beklemtoon die 4,9c per liter vir petroljoggies se vergoeding is ook omhein vir dié spesifieke doel.

Die enigste manier waarop die regering dus kon ingryp, was om aan die basiese brandstofprys – wat volgens invoerpariteitsbeginsels saamgestel word en maandeliks gereguleer word volgens die rand-dollarwisselkoers en internasionale oliepryse – te torring.

Maake wou nie die gesprekke met die oliemaatskappye as “onderhandelings” beskryf nie, maar het genoem dat hulle ingestem het tot die plan om tydelike verligting aan verbruikers te gee.

Maake wou nie kommentaar lewer op die vraag of dit nie net beteken dat Oktober se pryse erger gaan styg nie. Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds toon ’n gemiddelde onderverhaling op petrolpryse van R1,02 per liter van 31 Augustus tot 3 September, en op diesel was die onderverhaling al by R1,19.

Dit beteken as internasionale pryse en die rand-dollarwisselkoers tot einde September konstant bly, sal brandstof in Oktober met meer as R1 moet styg.

Met die jongste BBP-syfers wat ’n resessie aandui en die gevolglike kwaai verswakking van die rand, verwag ekonome skok-stygings vir Oktober se brandstofprys.

Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, het die ingryping in die brandstofprys verwelkom, maar gewaarsku dit is soos ’n pleister op ’n gebreekte been.

Die rand het reeds Dinsdag tot R15,33 teenoor die dollar verswak, en oliepryse is weer bo $78 per vat.

Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agri-Business, waarsku die reeds hoë brandstofpryse kalwe weg aan die winsgrense op landbouprodukte, met byna 80% van graan wat per pad vervoer word. Dié koste sal stelselmatig aan verbruikers deurgegee word.

Hoër oliepryse impliseer ook hoër koste vir ander landbou-insette soos kunsmis, insekdoders en onkruiddoders.

Meer oor:  Jeff Radebe  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Departement Van Energie  |  Diesel  |  Olieprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.