Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Puik nuus in Julie verwag!

Fantastiese nuus lê in Julie vir motoriste voor as iets nie ’n enorme stok in die wiel steek nie.

Petrol en diesel gaan na verwagting vir die eerste keer in ses maande albei goedkoper word – en met ’n bedrag wat regtig ’n verskil aan motoriste se beursies kan maak.

  • Die oorverhaling op die petrolprys beloop nou 90c per liter vir 95-oktaan-petrol en 91c vir 93-oktaan.
  • Die oorverhaling op die groothandelprys van diesel beloop nou 69c per liter vir diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% van 70c per liter vir 0,005%.
  • Die oorverhaling op paraffien beloop 62c per liter.

Die oor- of onderverhaling is die verskil tussen brandstofpryse op die ope mark en die vasgestelde, gereguleerde groot- of kleinhandelprys van brandstof vir ’n gegewe maand. ’n Oorverhaling beteken brandstof is eintlik op die oomblik goedkoper as wat Suid-Afrikaners opdok en dié situasie moet in die volgende maand reggestel word.

Fuel consumption showing empty petrol tank. (Photo
Hou duim vas dat jy in Julie sal kan bekostig om te sê: Maak vol! Foto: Getty Images

Die oorverhaling is vir die twee weke tot Donderdag 13 Junie. Dit word daagliks bygewerk en kan dus nog aansienlik verander oor die res van die oorsigmaand, wat tot Donderdag 27 Junie duur.

Pryse vir Julie sal vanaf Woensdag 3 Julie geld.

Die grootste rede vir die huidige oorverhaling is dat internasionale brandstofpryse die afgelope twee weke skerp teenoor die vorige maand gedaal het. Die prys van Brent-ruolie het byvoorbeeld verlede maand baie na aan $73 per vat gedraai en het intussen tot onder $60 per vat teruggesak.

Daar is wel die risiko dat oliepryse gaan styg weens aanvalle op tenkskepe in die Golf van Oman.

Lees ook: Aanval op tenkskepe: VSA rapporteer Iran aan VN

Die rand – wat die afgelope paar weke tot selfs R15,17 teenoor die dollar verswak het – het die oorverhaling met tussen 17c en 18c per liter verminder. Die geldeenheid het egter die afgelope paar dae ietwat versterk en trek nou by R14,86 per dollar.

Suid-Afrikaners kan dalk ’n bykomende bonus kry indien die Sentrale Energiefonds nie meer die Slate-heffing van 13c per liter nodig het wat in Junie ingestel is nie. Dié heffing is ingestel omdat die Slate-fonds (oftewel die staatsoliefonds), waaruit brandstoffirmas vergoed word indien hulle meer as die mark vir brandstof moet betaal,’n negatiewe balans van R1,4 miljard ontwikkel het.

Die AA het namiddag in ’n verklaring gesê motoriste trek voordeel uit die voortslepende toutrekkery tussen die lidlande van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande, wat produksie wil beperk, en die VSA, waar produksie net aanhou styg.

“Suid-Afrikaners kry egter nie die volle waarde nie, weens die rand-ritteltits in die nadraai van die ANC se topleiers wat woorde gewissel het oor die toekoms van die Reserwebank.”

Die AA sê as die rand stabiliseer en olie op die huidige lae vlakke bly, kan brandstofpryse selfs meer daal. “Baie sal afhang of politici selfbeheersing in hul openbare stellings kan handhaaf. Ons doen ’n beroep op die regering om sy ekonomiese beleid helder en ondubbelsinnig privaat te formuleer voordat dit in die openbaar verwoord word, waar beleggers toekyk.”

Meer oor:  Olieprys  |  Rand  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.