Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Regering gryp in en keer hoë styging

In ’n uiters verrassende stap het die departement van energie ingegryp in die vasstelling van die brandstofpryse vir September.

In ’n uiters ongewone stap het die regering motoriste tegemoet gekom.

Hoewel daar ’n onderverhaling (dus verwagte styging) van tot 32c per liter op brandstofpryse was, het die Sentrale Energiefonds aangekondig dat diesel op groothandelvlak, paraffien en gas glad nie duurder word nie en petrol met slegs 5c per liter.

“Die minister van energie het die dringende, tydelike brandstofprysingryping goedgekeur,” luidens die fonds.

Die departement verwys in ’n verklaring na die “volgehoue stygings in brandstofpryse oor die afgelope paar maande, wat druk op verbruikers geplaas het.

“Ondanks die feit dat die stygings grootliks deur internasionale faktore veroorsaak is, het die departement besluit om tydelik in te gryp. Dis ’n eenmalige, tydelike ingryping om ’n  mate van verligting aan motoriste en verbruikers teen brandstofprysstygings te gee.”

Daar is geen aanduiding of die tydelike verligting bloot beteken die onderverhaling in Oktober gaan dalk hoër wees nie.

Die petrolprys styg slegs omdat die kleinhandelwinsgrens vir vulstasies dié maand aangepas word. Dis om voorsiening te maak vir die loonverhogings van petroljoggies. Die kleinhandelwinsgrens weerspieël nie in die dieselprys nie omdat die Sentrale Energiefonds net die groothandelprys van diesel aankondig en die kleinhandelprys van diesel nie gereguleer word nie.

Meer oor diesel

Diesel by vulstasies sal waarskynlik wel in September duurder word vir gewone motoriste.

Die prysstygings op diesel wat die Sentrale Energiefonds aangee, is vir die groothandelprys van diesel, nie die kleinhandelprys nie.

Omdat diesel ’n nywerheidsinset vir die meeste maatskappye en die landbousektor is, word die meeste diesel op groothandelvlak verkoop en word die kleinhandelprys nie gereguleer nie. 

Vulstasie-eienaars kan dus hul eie kleinhandelprys bepaal en sal waarskynlik ’n styging in September deurgee om vir die loonverhogings voorsiening te maak. Dit sal egter van vulstasie tot vulstasie wissel.

Die nuwe pryse word Woensdag van krag.

Dit is die eerste keer wat die brandstofprys gemanipuleer word sedert die Sentrale Energiefonds in 1994 aangestel is juis as ’n “onpartydige liggaam” wat ’n vaste, deursigtige formule moet gebruik “om manipulering deur enige belanghebbende party te voorkom”, volgens die inligting op die departement van energie se webwerf.

Die stap kom nadat pres. Cyril Ramaphosa ministers in die ekonomiese groepering, insluitend Jeff Radebe, minister van energie, in Junie opdrag gegee het om maatreëls te ondersoek waardeur die druk op verbruikers verlig kan word.

Politieke partye – insluitend die DA, regerende ANC en EFF – en drukgroepe soos die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die afgelope ruk geëis dat die algemene brandstofheffing of die Padongelukkefondsheffing verminder of geskrap word. Dit verteenwoordig meer as die helfte van brandstofpryse.

Selfs die parlement wou in Augustus oor die brandstofpryse praat, maar weens ’n kommunikasiegaping met Radebe het dit toe nie gebeur nie. Radebe het kort daarna ’n omvattende nuuskonferensie gehou waarin amptenare van sy departement juis klem gelê het op die deursigtige aard van Suid-Afrikaanse brandstofpryse.

Die ongewone stap kom op ’n subsidie van die brandstofprys neer – iets waarmee verskeie ander lande vantevore hul vingers verbrand het. Egipte moes in Julie 2014 die dieselprys met 63% opstoot in ’n poging om subsidies te verminder.

Boonop het die G20-lande, waarvan Suid-Afrika een is, hulle in September 2009 verbind tot die uitfasering van subsidies omdat dit onregstreeks die verbruik van fossielbrandstowwe – wat regstreeks met aardverhitting verbind word – aanmoedig.

Die rand het in die oorsigmaand gemiddeld teen R13,94 teenoor die dollar verhandel, teenoor die vorige oorsigmaand se R13,47. Internasionale oliepryse het ook in die oorsigmaand duurder geword.

Gewoonlik is dit slegs dié twee faktore wat die styging of daling in brandstofpryse bepaal, met die uitsondering van April, wanneer die regering sy heffings aanpas, en September, wanneer kleinhandelwinsgrense aangepas word.

Indien die normale proses gevolg is, sou paraffien 20c per liter duurder geword het; petrol 26c of 28c; en diesel 31c of 32c, vóór die aanpassing in kleinhandelwingrense.

Meer oor:  Aa  |  Ruolie  |  Olieprys  |  Sentrale Energiefonds  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.