Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Siriese lugaanvalle gaan jou sak ruk
Die Siriese oorlog veroorsaak ’n skerp styging in oliepryse. Foto: Unsplash

Die spanning in Sirië gaan internasionale oliepryse verder laat styg en hou niks goeds in vir Suid-Afrikaanse motoriste nie.

So maan die Automobiel-Assosiasie (AA) in dié organisasie se middel-van-die-maand-raming van hoeveel brandstofpryse in Mei gaan styg.

Dit kom nadat die VSA, Brittanje en Frankryk die naweek gesamentlike lugaanvalle op Sirië uitgevoer het in reaksie op ’n beweerde chloorgasaanval op burgerlikes deur die regering van pres. Basjar al-Assad.

“Petroleumpryse was grootliks onveranderd in die eerste week van April, maar het skerp gestyg soos die spanning in Sirië toegeneem het. Dié Midde-Oosterse land lê naby aan baie van die wêreld se belangrikste olieprodusente, en petroleumpryse was in die verlede baie sensitief vir onstabiliteit in die streek.”

Daarby het die rand in die eerste helfte van April effens verswak. Die styging in oliepryse is egter verantwoordelik vir die grootste deel van Mei se verwagte styging in plaaslike petrol- en dieselpryse.

Sedert Netwerk24 Vrydag die tweeweek-oorsig bespreek het, het die situasie verswak. As pryse Maandag vasgestel sou word, sou 95-oktaanpetrol 41c per liter duurder moes word, diesel 48c per liter en paraffien 38c per liter.

Die AA sê langdurige onstabiliteit gaan die res van die jaar slegte nuus vir motoriste bring.

“Suid-Afrikaners moet in ag neem dat hul brandstofbegroting onder druk kan kom op kort tot mediumtermyn.”

Die brandstofpryse vir Mei word op 27 April vasgestel en geld van Woensdag 2 Mei af.

’n Verhoging van so min as 10c per liter sal petrol aan die kus op sy hoogste vlak tot nog toe te staan bring, ’n rekord wat sedert April 2014 staan. Petrol het in April sy hoogste vlak tot nog toe in die binneland, R14,48 per liter, gehaal.

Die styging lyk in dié stadium nog heelwat kleiner as die enorme verhogings in April, toe petrol in die binneland 72c per liter duurder geword het en diesel 65c per liter; aan die kus het petrol in April 62c per liter duurder geword en diesel 55c per liter. (Die verskillende stygings was weens ’n verhoging in Transnet se tarief vir die vervoer per pypleiding van brandstof na die binneland.)

Meer oor:  Automobiel-Assosiasie  |  Aa  |  Brandstof  |  Diesel  |  Ruolie  |  Olieprys  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.