Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Energie
Petrolprys: Só lyk April se enorme skok

Petrol gaan Woensdag nagenoeg R1,26 per liter duurder word, wys die jongste syfers wat Vrydag uitgereik is.

Petrol gaan in April met R1,26 of R1,28 per liter duurder word en diesel met 75c of 77c per liter. Foto: Pixabay

Die rand het verswak op die laaste dag van die oorsigmaand voordat April se brandstofpryse bepaal word en die finale onderverhaling vir 95-oktaan-petrol was R1,06 per liter.

Daarby moet die stygings in brandstofheffings, wat elke jaar in April van krag word, nog gevoeg word. Vanjaar styg die heffings met altesame 20c: 15c vir die algemene brandstofheffing en 5c vir die Padongelukkefondsheffing.

Dit bring die totale styging van die petrolprys op R1,26 per liter te staan – een van die grootste maandstygings in jare.

Saam met Februarie en Maart se gesamentlike styging van 81c per liter beteken dit petrol het oor drie maande R2,07 per liter duurder geword. Dis R93,15 per tenk van 45 liter méér as in Januarie.

93-oktaan-petrol gaan met nagenoeg R1,28 per liter duurder word.

Die dieselprys gaan ook heelwat styg, maar nie so baie soos die petrolprys nie. Die groothandelprys van diesel met ’n swaelinhoud van 0,05% styg met 75c per liter en met 0,005% 77c per liter. Dit sluit die styging in heffings in.

Die Sentrale Energiefonds kondig die finale April-heffings op die laatste Maandag aan. Dit sal vanaf Woensdag 3 April geld.

Die grootste rede vir die skerp styging in die petrolprys is die styging in internasionale brandstofpryse. Dit dra 77c tot 80c per liter tot die onderverhaling by. Vir diesel is die grootste bydraende faktor die verswakking van die rand, wat 31c of 32c per liter tot die styging bydra.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het Vrydag gesê ingevoerde brandstof het die afgelope maand van R6,60 per liter tot R7,40 per liter opgeskiet. Daarby het die rand van R14,15 teenoor die dollar tot R14,65 verswak.

“Die uitwerking hiervan op die brandstofprys is nie lekker leesstof nie.”

Die AA sê in ’n verklaring die verswakking van die rand is baie kommerwekkend, “gegewe dat geen spesifieke faktore in die maand ontstaan het wat die verswakking kan verklaar nie.”

Die meeste ontleders skryf die verswakking toe aan negatiewe sentiment teenoor ontluikende markte in die algemeen, asook aan senuagtigheid in afwagting van Moody’s Investors Service se kredietgraderingsbesluit Vrydagaand.

Die AA reken dit weerspieël ’n “versnellende verlies aan aptyt vir regstreekse buitelandse investering” in Suid-Afrika. “Ons doen dringend ’n beroep op die regering om konkrete stappe te doen om die ekonomiese swakheid op te los wat ons land se aanloklikheid vir buitelandse kapitaal beïnvloed.”

Meer oor:  Ruolie  |  Olieprys  |  Sentrale Energiefonds  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Brandstof  |  Diesel  |  Opul
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.